Landbou-ekonome moet ’n manier vind om hul navorsing beter uit te dra, veral deur populêre landboutydskrifte, het prof. Gerald Ortmann van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, by die jaarlikse konferensie van Levsa (landbou-ekonomievereniging van Suid-Afrika) buite Pretoria gesê.
Ortmann, wat van September 1999 tot September 2001 voorsitter van Levsa was, het gesê landbou-ekonome het baie navorsing gedoen oor eiendomsreg, maniere om natuurlike hulpbronne, soos grond en weiding, te deel en bestuur en hoe om kleinboere by markte in te skakel, maar nie dié bevindinge op ‘n oortuigende wyse aan die publiek en beleidmakers oorgedra nie.
Hy het dié gebrekkige kommunikasie toegeskryf aan die feit dat universiteite akademici beloon op grond van publikasies in wetenskaplike en vakjoernale. “Daar is geen erkenning vir akademici as hulle dieselfde bevindinge in populêre tydskrifte publiseer nie, of as ons ons wetenskaplike referate omskakel in artikels vir leke sodat meer mense kan verstaan wat ons sê nie.”
Ortmann het voorgestel dat die vakvereniging Levsa sy kommunikasie behoort te verbeter sodat hy meer openbare blootstelling kry, deur byvoorbeeld nuusvrystellings op radio en televisie uit te stuur en meer gebruikersvriendelike inligting op sy webwerf te publiseer. Eweneens kan populêre tydskrifte beter benut word as ’n manier om objektiewe inligting aan die private en openbare sektor oor te dra.
Hy het ’n uitdaging gerig aan die bestuur van Levsa om dit te oorweeg om ‘n toekenning te gee vir die beste artikel oor landbou-ekonomiese navorsing in ’n landboutydskrif.
29 September 2011