Die landbou ry ’n ekonomiese hoogty, maar die platteland trek swaar, sê mnr. Jan van Zyl, hoof van die landbou-afdeling by Eerste Nasionale Bank (ENB).
“Al hoe minder (regering) steun word aan die platteland gegee, terwyl al hoe meer ondernemings in dié dorpe sluit. Uiteindelik word die dorpe deur maatskaplike toelaes en pensioengeld aan die gang gehou, terwyl boere verkies om eerder in groot stede sake te doen.”
Dít terwyl die landbou vooruitboer. “Die sektor is tans op ’n ekonomiese kruin en banke beskou die landbou as groot besigheid. Ongeveer 20% van ons bruto binnelandse produk is regstreeks of onregstreeks afhanklik van die landbou.” Banke is gevolglik bereid om heelwat aan produsente te leen, sê Van Zyl.
Knelpunte
Die Suid-Afrikaanse landbou het egter steeds dinge wat lol. “Die moontlikheid dat die ekonomie ’n tweede dip kan neem moenie uitgeskakel word nie.” Van Zyl meen werkloosheid is tans die wêreld se grootste risiko. Invoer hou verder ook ’n groot bedreiging in vir Suid-Afrika.
“In Brasilië is daar byvoorbeeld ’n voedselmaatskappy wat daarop ingestel is om die wêreld te oorheers. Só ’n maatskappy bedreig veral die plaaslike pluimveebedryf wat blootgestel is aan die internasionale mark.”
Van Zyl is nie oortuig dat Afrika vinnig Suid-Afrika se produksievermoë sal oorskry nie. Meestal as gevolg van oorwegings ten opsigte van infrastruktuur.
“Kyk maar na Zambië se mielie-oes van die afgelope paar jaar. Dit is ’n reuse-suksesverhaal, maar die land het eenvoudig nie die infrastruktuur om die produksie na wense te ondersteun nie.”
14 Desember 2011