
Die nuutste ontleding toon dat voedselsekerheid die afgelope jaar in vele opsigte betekenisvol verswak het. Integrated Food Security Phase Classification (IPC) is 'n stuk gereedskap wat deur die FAO ontwikkel is om die vlak van voedselsekerheid in lande te meet o 'n gestandaardiseerde manier.
Die normalisering van weerpatrone het die totale volume landbouproduksie in Suider-Afrika met 25% verhoog, vergeleke met 2016, en sodoende voedselonsekerheid in van die lande verminder, maar nog nie opgelos nie. Hieronder tel Lesotho, Malawi, Mosambiek, Swaziland en Zimbabwe.
In ‘n FAO-verslag van 9 Junie, word beklemmende syfers oor die stand van voedselsekerheid wêreldwyd en soos gemeet aan die hand van die IPC, bekend gemaak. Die IPC klassifiseer lande in vyf kategorieë, naamlik minimaal, onder druk, krisis, nood en hongersnood. Vir elke kategorie is voorkeur reaksie-doelwitte geprioritiseer met moontlike implikasies in terme van voedselverbruik, voedingstatus en mortaliteit. Laasgenoemde word selfs gemeet in terme van aantal sterftes onder kinders jonger as vyf jaar.
Tegnies in resessie
Die jongste inligting oor die prestasie van die Suid-Afrikaanse ekonomie en die gevolglike impak van onvoldoende (geen groei) op die sub-streek, is betekenisvol. Die land is tegnies in 'n resessie en die vooruitsigte vir die res van die jaar lyk nie beter nie. Slegs die landbou en mynbou het positiewe groei getoon.
Hoewel die landbou met meer as 22% gegroei het, was die sektor se bydrae tot die GBP ‘n skamele 0,4%. Mynbou was ‘n skamele 0,9%, maar tesame was dit die twee sektore wat verdere verval van die ekonomie gebuffer het. Ontleders wys op fundamentele tekortkominge in die ekonomie wat verdere regressie tot gevolg kan hê, soos die gebrek aan vertroue onder verbruikers.
Baie mense kan nie meer bestee nie as gevolg van skuldvlakke en diegene met besteebare inkomste, spandeer aan die hand van 'n Josefsbeleid. Die mynbou-sektor staal homself vir ‘n beweerde brander wat die nuwe Mynbou manifes aanbetref en wat verdere beleggings kan ontmoedig. Ontsparing is aan die orde van huishoudings tot staat en so knars die ratte van die ekonomie tot stilstand. Daarteenoor het die landbou ná die droogte terg gebons met meer as 80% toename in produksie met geweldige prysneerdrukkende gevolge.
Boere wurg
Dit wurg boere wat wel meer graan het om te bemark, maar met prysvlakke wat volhoubaarheid op 'n ander manier as droogtes verniel. Kenners waarsku dat tensy binnelandse markte vinniger “skoongemaak” kan word deur middel van uitvoere, lae pryse produsente gaan noop om nog meet te plant vir groter volumes en pryse daal verder. Verbruikers kan nie meer bestee nie en daarmee saam gaan welvaart verlore aan beide kante van die plaashek. Die ekonomie leen hom net nie aan ‘n gee van spandeer om uit die gemors te kom nie.
'n Rekord aantal plase is in die mark te midde van toenemende onsekerheid oor eiendomsregte. Die staat bly behep met filantropiese oplossings, soos die 1-hektaar-2 koeie-benadering, om meer opkomende boere toegang te gee tot grond, maar met bedenklike vooruitsigte oor die werklike bydrae wat dit kan maak tot vermindering van voedsel onsekerheid onder die begunstigdes.
Op te lei tot kommersiële status
Uitstekende inisiatiewe van organisasies om opkomende boere op te lei en te begelei tot kommersiële status, val vas op teveel terreine omdat dié bemagtigde boere nie werklik vooruit kan gaan sonder titelaktes nie. Hulle bly tegnies die slawe van 'n bestel wat nie die waarde van die vrye mark wil verstaan nie – in hul eie taal, bly hulle plakkers.
In baie lande wat uiters sleg vaar in terme van die IPC, is konflik sigbaar met ewe sigbare ellende wat voedsel sekuriteit aanbetref. Die vraag is waar lande in Suider-Afrika hulle bevind te midde van bewese en toenemende beleid onsekerheid in die Suid-Afrikaanse landbou. Stygende werkloosheid en gevolglike afwesige besteding op voedsel plaas dele van Suid-Afrika in fase 3 van die IPC-krisis.
Die gans met die goue eiers eis nou beter beskerming, die nes is so te sê verwoes.