
Agri SA sê hoewel die regering meer kon doen aan die probleme wat die landbou in die gesig staar, weerspieël die begroting ’n nugtere analise van die omgewing waarin die landbou hom bevind.
Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur, sê dit toon begrip vir die struikelblokke wat ’n beduidende impak of voedselsekerheid kan hê. “Die hulp om Eskom se skuldlas te help verlig word verwelkom gegewe die benarde posisie waarin die onderneming hom bevind, maar nou moet Eskom wys hoe hy hierdie hulp gaan benut om homself in ’n stiuasie van volhoubaarheid en winsgewendheid te kry.”
Agri SA verwelkom ook maatreëls om die rabat op diesel na voedselvervaardigers uit te brei omdat dit kan help om die koste van voedselproduksie ter wille van verbruikers te beperk.
Nog goeie nuus wat hy uitgesonder het, is dat besighede van 1 Maart af hul belasbare inkomste met 125% van die koste van ’n belegging in hernubare energie kan verminder. Daarby is daar ook die belastingaansporing vir individue om sonpanele op hul dakke te installeer om druk op die netwerk te verminder en beurtkrag te help verlig.
Van der Rheede verwelkom ook die feit dat die algemene brandstofheffing en die padongelukkefondsheffing nie vanjaar verhoog word nie om beleggings in hernubare energie te bevorder. Hy sê die verhoging in aksynsbelasting op alkohol en tabak van 4,9% bly ’n probleem vir die bedrywe, maar dit is darem laer as verwag is en in ooreenstemming met inflasieverwagtinge.
Veiligheid, beurtkrag en paaie
Hy sê die R7,8 miljard aan die polisie om 5 000 lede per jaar aan te stel, R3,1 miljard aan verdediging om veiligheid op die grens te verbeter en R695 miljard vir onmiddelike verligting ná die nasionale ramp met oorstromings in verskeie provinsies word ook verwelkom. “Daar moet net gesorg word dat die geld by diegene uitkom wat dit dringend benodig.”
Hy beklemtoon hierdie is is ’n belangrike tydperk vir die landbousektor wat hard getref word deur beurtkrag. “Net die tyd sal leer of die regering sal optree met die erns wat vereis word om die ingrypings wat aangekondig is, in werking te stel.”
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê hulle verwelkom die beoogde besteding van sowat R400 miljard aan infrastruktuur oor die volgende drie jaar. “Ons sal regtig wil sien hoe die herstel van paaie en watervoorsiening aandag kry. Verder sal ons wil sien dat die geld wat vir veiligheid en sekuriteit begroot is, ook aangewend sal word vir die beveiliging van plase. Dit is net jammer dat daar nêrens enigiets oor plaasaanvalle genoem word nie.”
Hy sê boere moet ook al hoe meer aan diesel bestee om die produksieproses aan die gang te hou ter wille van Suid-Afrika se voedselsekerheid. “Daar word steeds niks gedoen om daarmee te help nie. Hoe verwag die regering dat daar kos op die tafels en rakke moet bly as hy nie ’n vinger lig om te help nie?
“Boere kry nie hul gewasse besproei nie. Ons soek steeds ’n oplossing daarvoor. Hoe hou die feit dat die regering R254 miljard van Eskom se skuldverpligtinge oorneem ’n voordeel vir landbou in, en vir die mense wat vir die land se voedselproduksie afhanklik is?”
Van Zyl sê dat dit goed is dat gekyk word om individue die voordeel van sonpaneelinstallasies te gee, maar besighede, wat plase insluit, behoort ook ’n voordeel daarvoor te kry. “Daar sal letterlik derduisende rande hieraan bestee moet word net om in produksie te bly tot voordeel van almal in die land, maar die voordele word tot individue beperk. ’n Begroting is veronderstel om hoop te gee vir ? beter toekoms vir almal, maar dit lyk asof die landbou steeds die onderspit delf.”
Bemoedig
Die landbousakekamer Agbiz het die begroting as “geloofwaardig in ’n moeilike ekonomiese tydperk” beskryf. Mnr. Theo Boshoff, uitvoerende hoof, sê hoewel daar gehoop is vir belastingtoegewings, is hy nogtans verlig dat die belastingkoerse nie te kwaai verhoog is nie en in ooreenstemming is met die bedryf se versoeke. Hy sê stygende insetkoste staar landbou-ondernemings in die gesig en hulle word teen relatief hoër koerse belas as hul internasionale mededingers.
“Huishoudelike probleme, veral die energiekrisis, is ’n groot las vir ekonomiese groei. Ons is veral bemoedig deur die minister se klem op Eskom se skuld en die reëling om die skuldlas te verlig. Dit sal Eskom kan help om voorkeur te gee aan besteding om kragopwekking te verbeter en die onderhoud van bestaande aanlegte.”
Hy sê dit is nog ietwat onduidelik hoe die belastingtoegewings vir kragopwekking die landbou gaan raak. Sodra daar meer besonderhede daaroor beskikbaar is, sal boere hulle belastingkenners moet raadpleeg oor hoe hulle die beste voordeel daaruit kan put. Die hernude klem op infrastruktuur soos wateropgaring en onderhoud van paaie word ook verwelkom omdat dit van deurslaggewende belang vir landbou en landboubesighede is.
Agri Wes-Kaap (AWK) sê hy is versigtig optimisties oor die verligting van Eskom se skuldlas sodat dit die onderneming in staat kan stel om aandag aan instandhouding en kragopwekking te gee.
AWK verwelkom die aankondiging dat R903 miljard op infrastruktuur bestee sal word. Belegging in die logistieke netwerk is vir die Wes-Kaapse landbou, wat uitvoergedrewe is, deurslaggewend. Terselfdertyd word die kortings wat voedselverwerkers oor die volgende twee jaar sal ontvang vir die gebruik van diesel vir kragopwekkers verwelkom.
Daar is gehoop dat aksynsbelasting nie verhoog sou word nie, maar AWK is nogtans verlig dat die verhoging in belasting op alkohol en tabak in pas is met die inflasiekoers. Die wynbedryf verkeer tans onder groot druk en ’n styging van meer as inflasie sou verdere druk op die bedryf plaas.
Vrystaat Landbou (VL) het op sy beurt ook die belastingkortings vir beleggings in hernubare energie verwelkom maar sê dit alleen sal nie genoeg wees om die elektrisiteitskrisis op te los nie. Mnr. Gernie Botha, uitvoerende hoof, sê spoedige privatisering en desentralisering van die opwekkinngsbedryf met gunstige projekfinansiering is al wat landsburgers van ’n toekoms in donkerte kan red. “Besluitnemers binne die staat weet dat dit die oplossing is, maar is huiwerig omdat dit die kontantvloei na korrupte netwerke bedreig.” Botha beklemtoon ook dat die landbousektor nie ’n 32% prysverhoging van Eskom oor twee jaar kan absorbeer nie.
VL verwelkom ook die begroting vir rampverligting. “Die Vrystaat se paaie het die laaste drie jaar erge vloedskade opgedoen. Baie van die platteland se grondpaaie is vernietig deur die vloede en brûe is ook op sekere plekke weggespoel. In baie gevalle is boere genoodsaak om dit self te herstel,” sê dr Jack Armour, kommersiële bestuurder.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.