
Die Suid-Afrikaanse ekonomie is uit sy tegniese resessie. Die landbou was die grootste bydraer tot die 2,5% groei in die bruto binnelandse produk (BBP) vir die tweede kwartaal met ’n bydrae van 0,7% van ’n persentasiepunt.
Mnr. Pali Lehohla, statikus-generaal, het tydens die bekendmaking van die BBP-syfers die landbou se groei van 33,6% beskryf as iets “wat deur die dak geskiet het”. In die eerste kwartaal het die landbou met 22,2% gegroei. Mynbou se bydrae tot die groei in die tweede kwartaal was 3,9%.
Die ekonomie se groei volg op twee kwartale van inkrimpings en met die landbou se hupstoot tot dusver vanjaar toon die ekonomie nou ’n jaar-op-jaar groei van 1,1%, en vir die afgelope ses maande ook 1,1%.
Landbou loop voor
Mnr. Mike Schüssler, ekonoom, sê dit is waarskynlik die vinnigste BBP-groei in die landbou in sowat ’n dekade. Die landbou het amper ’n derde bygedra tot die groei in BBP.
“Op papier lyk dit egter beter as wat dit in werklikheid is. Die boere doen goed, maar hulle voel dit nie aan die sak nie. Hoewel hule 29% meer geproduseer het is hulle in werklikheid weens die effek van prysinflasie net 14% beter af.”
Hy sê hy bly egter optimisties oor die landbou-bedryf vorentoe, mits daar meer sekerheid vir boere geskep kan word. “Dit geld vir veiligheid sowel as sekerheid van eienaarskap, kwessies rondom grondhervorming en ander beleidskwessies. Die somerseisoen lyk belowend vorentoe, graanpryse sal weer herstel oor tyd en al hoe meer boere raak by lonende nismarkte betrokke.”
Groeipad lyk goed
Die landbousakekamer Agbiz verwag dat die landbou op ’n positiewe groeipad deur die res van die jaar sal bly, maar nie teen dieselfde koers nie. “Die voortslepende droogte in die Wes-Kaap bly ’n groot bekommernis,” sê mnr. Wandile Sihlobo, ekonoom van Agbiz, in dié landboubesigheidskamer se kommentaar.
“Dit kan ’n nadelige invloed hê op die somer se tuinbouprodukte sowel as wintergrane en-oliesade wat deel vorm van die provinsie se leeue-aandeel van 22% tot die land se landbou-ekonomie.”
In randwaarde het die landbou R15 miljard meer (altesame R40 miljard) tot die nominale BBP bygedra. Die land se nominale BBP vir die tweede kwartaal word op R1 145 miljard geraam. Volgens Statistieke SA se syfers is daar net twee uit 10 bedrywe wat gekrimp het – konstruksie (-0,5%) en die staatsdiens (-0,6%).