
Die landbou gaan in die volgende 15 jaar méér verander as in die vorige halfeeu, het mnr. Cornie Swart, voorsitter van Agri Wes-Kaap, tydens dié unie se jaarvergadering op Goudini gesê. Hy meen die sektor sal ’n wesenlike verskil in die volgende ses jaar moet maak.
“Die Regering se belangrikste uitdaging is om vertroue onder rolspelers te kweek en só groei in die landbou aan te moedig. Maar beleidsekerheid, -koördinasie en swak dienslewering belemmer dit.”
Aspekte wat aandag verg, is arbeid, beleid jeens die landbou, geadministreerde pryse, landbounavorsing, handelsbedelings en grondhervorming, meen Swart.
“Wetgewing oor werkloosheid blyk onaantasbaar te wees, en hoër produktiwiteit word as arbeidsvervanging beskou.” Die 52% styging van plaaswerkerlone belemmer die landbou se vermoë om werk te skep. Die verskuiwing na minder arbeidsintensiewe landboubedrywighede sal ernstige gevolge vir die ekonomie en voedselsekerheid inhou.
Planne vir grondhervorming skep onsekerheid, veral vir beleggings. Die waarde van landbougrond is R185 miljard. “Banke se skuld hierop is R125 miljard, en ek wonder wie is die grootste grondeienaar.”
Kommer heers oor landelike infrastruktuur, en wetgewing oor rampbestuur is onvoldoende. Aansprake op natuurlike hulpbronne vereis beleidsekerheid, terwyl die ontginning van skaliegas en prospektering vir uraan maak grondeienaars onrustig.
“Dié sake is belangrik, want 60% van die bevolking is verstedelik en afhanklik van die landbou vir voedsel,” het Swart gewaarsku. Daar is 14 miljoen huishoudings en 35 000 boerdery-eenhede. Dus produseer elke boerdery-eenheid kos vir 1500 mense. “Tot dusver het landbouproduksie meer as bevolkingsgroei toegeneem.”