
Lank voor mynwese, was die landbou die hoeksteen van hierdie land se ekonomie, en lank na mynwese gaan die landbou steeds die ekonomie van die streek dryf, het mnr. Andries Gamede, Mpumalanga se LUR vir landbou en landelike ontwikkeling by die onlangse Subtrop-bemarkingsimposium in Witrivier gesê. “Wanneer die goud en diamante klaar is, gaan die landbou nog daar wees. Julle is dus op die regte plek,” het hy vir boere in sy openingstoespraak gesê.
Hy het ook gesê dit is belangrik hoe Suid-Afrika se landbousektor homself in die res van die wêreld posissioneer. Hy het daarop gewys dat Suid-Afrika nie net in Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) ’n belangrike rol kan speel in voedselsekerheid nie, maar ook ’n sleutelspeler in Brics-lande kan wees. Boere kan baie baat by markte in hierdie lande wat vir hulle oopgaan. “Almal in Suid-Afrika kan baat by beter handelsbetrekinge tussen die Brics-lande.”
Gumede het sy stem gevoeg by mnr. Mark Baker, die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Avokadokwekersvereniging (SAAKV), wat vroeër die oggend gesê het gevestigde boere wil graag sien dat opkomende boere ontwikkel tot kommersiële boere. “Maar hulle moet bereid wees om te leer,” het Gumede bygevoeg. “Hulle moet besef dat daar mense in hierdie bedryf is wat baie meer kennis as hulle het en hulle moet daardie mense nie wegwys as hulle hul kennis wil deel nie.”
Caption:
Mpumalanga se LUR vir Landbou en Landelike Ontwikkeling, mnr. Andries Gumede.
Jasper Raats