
Die landbou-sektor kan ’n deurslaggewende rol speel in die ekonomiese herstel in die Europese Unie, maar boere moet ’n regverdige deel kry van die winste binne die hele voedsel-waardeketting, sê mnr. Phil Hogan, EU-kommissaris vir landbou en landelike ontwikkeling.
Hy het by die Groen Week in Berlyn, die wêreld se grootste landbou- en voedselskou, gesê die nuwe algemene landbou-beleid (CAP) is baie meer markgerig en boere kan besluit wat hulle wil produseer met die oog op wat die mark wil hê, eerder as kwotas en die tipes subsidies wat daarmee gepaard gaan.
Hy sê ’n opwindende nuwe bestanddeel van die CAP is nouer samewerking met die navorsingsgemeenskap om antwoorde te vind oor hoe om meer te produseer sonder groter druk op die beskikbare natuurlike hulpbronne.
Hogan sê almal is ook bewus van die belangrikheid om die administratiewe las van rompslomp op boere te verminder en dit is vir hom ’n voorkeursaak. Nog ’n voorkeursaak is om nuwe markte te vind, veral vir uitvoere wat benadeel word deur Rusland se verbod op invoere uit Europa.
* Nico van Burick woon die Groen Week in Berlyn by.