
“Ons is nie setlaars of kolonialiste nie. Ons is Suid-Afrikaners met ’n liefde vir die land. Ons het niks gesteel nie en skuld niemand iets nie. Ons kom ons plig na en ons het ’n reg om hier te wees.” Dit was deel van mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA, se boodskap aan boere tydens die organisasie se jaarkongres in Pretoria.
Hy het boere aangemoedig deur uit te wys dat hulle die sleutel is tot voedselsekerheid plaaslik, maar ook internasionaal. Meintjes meen dat boere ook geregtig is op billike pryse vir die produkte wat hulle lewer. “Ons moet ons krag verstaan – hoekom sien ons dan onsself as prysnemers?”
In antwoord op opmerkings wat die afgelope jaar al teenoor die landbougemeenskap gemaak is, het Meintjes geantwoord: “Die Van der Merwes en Van Heerdens gaan nie hier weg nie en is hier om te bly. Ons sal ons nie laat boelie nie.”
Kommer oor arbeidkoste op plase
Meintjes het sy kommer uitgespreek oor die koste van arbeid op plase, asook die koste daarvan. Die koste van arbeid het volgens statistiek oor die afgelope paar jaar met 300% gestyg. Hy sê tussen 2000 en 2010 het die koste van arbeid in China met 900% gestyg, maar ten spyte daarvan, was daar ’n tekort aan arbeid.
Mense wil volgens Meintjes nie meer op plase werk nie, en hy waarsku die landbou om daarvan kennis te neem. “Dit is ’n mite om te glo dat landbou die oplossing is vir werkloosheid op die platteland. Dit is ’n feit dat indiensneming in die landbou wêreldwyd afneem.”
Nog ’n bron van kommer is die kwessie van veiligheid op plase. Volgens die organisasie se statistiek is 1586 moorde sedert 1990 op plase gepleeg, terwyl 2817 aanvalle plaasgevind het. Vir 2012 tot dusver is 34 boere vermoor, tydens 89 aanvalle op plaasbewoners.
Volgens Meintjes bly dié situasie ’n ernstige kwessie, want boere kan nie volhoubaar produseer sonder ’n veilige, stabiele omgewing nie.