Joernaliste en fotograwe van Landbouweekblad het weer puik gepresteer deur met die meeste pryse in Suid-Afrika se toonaangewendste wedstryde vir landbou-artikels, -nuus en -fotografie weg te stap.
Johan Norval, hoof van die tydskrif se kantoor in Bloemfonteins, is op Landbouskrywers SA se jaarlikse gala-geleentheid in die Paarl as die BKB Landboufotograaf van die Jaar bekroon. Norval het ook die prys vir die Foto van die Jaar (regs) buitgemaak.
Nico van Burick van Pretoria, Landbouweekblad se nuusredakteur, is deur Pro-Agri Forum, die vereniging wat wenners van die Boer van die Jaar-titel verteenwoordig, as Landbouskrywer van die Jaar aangewys.
Charl van Rooyen, assistentredakteur en hoof van die Pretoriase kantoor, het die Monsanto/ Landbouskrywers SA-prys vir die beste tegniese artikels gewen, met Norval en Isabel Stoltz, ook van Pretoria, saam derde. Die tweede prys is deur me. Liza Bohlmann, redakteur van The Dairy Mail, ingepalm.
Me. Lindi van Rooyen van Farmer’s Weekly het die Santam Landbou/Agri Securitas Joernalis van die Jaar-prys, wat op die beeld van landbou fokus, gewen. Mnr. Reg Weiss van die Paarl, oud-redaksielid van Landbouweekblad, is vereer met ’n oorkonde vir sy diens as landboujoernalis, wat oor dekades strek.
Op die jaarvergadering van Landbouskrywers SA is die dagbestuur onbestrede herkies. Die bestuur bestaan uit Magda du Toit (voorsitter) van Monsanto, Adéle Engelbrecht (ondervoorsitter) van Landbouweekblad, Van Rooyen (sekretaris en uitvoerende bestuurslid van die Internasionale Federasie van Landboujoernaliste) en Hanlie du Plessis (tesourier), vryskutjoernalis van Pretoria.
Volgende jaar se beste boer, nuwe toetreder tot die kommersiële landbou en beste landboukundige sal op 9 November in Gauteng aangewys word.
18 November 2011