Die hoof-uitdagings wat Afrika ervaar kan slegs opgelos word deur die posisionering van die landbou as die sentrale drywer in die hernuwing- en ontwikkelingsproses op dié kontinent, het oudpres. Thabo Mbeki in Berlyn gesê.
Mbeki het AGCO, ‘n vervaardiger van landboumasjinerie, se Afrika-beraad oor “ ‘n visie vir die landbou in Afrika” toegespreek.
Afrika word gesien as die kontinent wat die nodige hulpbronne en die beste potensiaal het om genoeg kos te produseer om aan die wêreld se toekomstige vraag te voorsien. Dit word voorspel dat die wêreldbevolking teen 2050 meer as nege miljard mense sal tel. Volgens Mbeki is dit duidelik dat feitlik al die hoof-uitdagings van die kontinent ‘n baie nou verband met die landbou het.
Vernaamste uitdagings
Hy het uitgelig dat dit ‘n wanopvatting is dat Afrikane van buite die kontinent gedruk moet word om sy vernaamste uitdagings aan te spreek.
Met Sub-Sahara Afrika wat oor 60% van die wêreld se onbewerkte grond beskik, wat geskik is vir landbouverbouing, het leiers in Afrika ‘n omvattende landbou-ontwikkelingsprogram (CAADP) tot stand gebring. Volgens dié program moet Afrika-lande ten minste 10% van hulle begrotings aan die landbou bestee. In lande, soos Mali, Madagaskar, Malawië, Namibië, Niger, Chad en Ethiopië is bewys dat dit gedoen kan word.
Nege ander lande het ook gewys dat produktiwiteit in die landbou jaarliks met 6% verhoog kan word.
Mbeki het aangedui dat hoewel die kontinent baie uitdagings het, hy bevoeg is om sy kwessies deur relevante strukture, soos die Afrika-Unie, op te los sonder die arrogante aanhitsing van sy internasionale vennote.
24 Januarie 2012