Die internasionale gemeenskap trek tans in Indië saam om die waarde van die landbou vir die bekamping van armoede te bespreek.
Luidens ‘n verklaring neem sowat 900 afgevaardigdes aan die konferensie in Nieu Delhi deel. Die tema van die konferensie is die verbetering van gesondheid en voeding deur die landbou.
Tot en met Vrydag (12 Februarie), sal die groep maniere waarop die sektor armes se lewensomstandigehde kan verbeter, bespreek.
Kenners wat al drie sektore, naamlik die landbou, gesondheid en voeding verteenwoordig, is aanwesig.
Veranderde denke
“Die landbou is baie meer as bloot die produksie van voedsel en ander produkte. Dit is verbind aan mense se lewensomstandighede op baie maniere, en dit het die potensiaal om baie meer te doen om hulle te voed en om gesondheidsrisikos te verminder,” aldus mnr. Shenggen Fan, die direkteur-generaal van die Internasionale Instituut vir Navorsing oor Voedselbeleid (IFPRI).
Navorsers het die afgelope jare baie produkte ontwikkel wat gewasse minder vatbaar maak vir siektes en wat boere in staat stel om meer te produseer.
Die IFPRI, die organiseerders van die konferensie, meen egter dat kundiges boere van ‘n wyer reeks produkte kan voorsien wat ook die voedingswaarde van hulle produkte – soos byvoorbeeld vitamien A en ysterinhoud – kan verbeter.
“Om gewasproduksie oor die algemeen te verhoog is nie genoeg nie. ‘n Nuwe paradigma is nodig vir landbou-ontwikkeling, sodat landbougroei ook kan lei tot verbeterde voedingswaarde en gesondheid,” sê Fan.
10 Februarie 2011