
Die landbou word wyd deur beurtkrag geraak, van melkerye wat ten duurste op kragopwekkers moet staatmaak en besproeiingsboere wat hul waterbeurte mis, tot voer wat laat afgelewer word omdat meulens dit nie betyds kon vervaardig nie.
Dit terwyl dié sektor volgens die jongste syfers net 2% tot 4% van die land se kraggebruik verteenwoordig, sê mnr. Tom Turner, voorsitter van die Melkprodusente-organisasie (MPO). “Eskom wen nie baie deur ons krag af te skakel nie.”
Boere het Agri SA oor verskeie kragbekommernisse genader, veral dat daar na bewering nie by beurtkragskedules gehou word nie. Mnr. Dawie Maree, senior ekonoom van Agri SA, sê ’n tegniese komitee van Agri SA, die TLU SA en Eskom het daarom in Desember spesiaal vergader.
Eskom-verteenwoordigers het tegniese kwessies verduidelik en gesê waar dié instansie beurtkrag toepas, word die skedule baie goed gevolg, maar dieselfde geld nie vir munisipaliteite nie. Maree het boere wat hul krag by laasgenoemde kry, aangemoedig om deur georganiseerde forums hul besware te lug. Volgens Maree werk Eskom aan ’n nuwe roterende skedule, sodat een gebied nie elke dag op dieselfde tyd sonder krag sit nie, en wat sekerheid sal bied.
Boere kan met hul plaaslike Eskom-verteenwoordigers in verbinding tree oor probleme. Dié verteenwoordigers se besonderhede sal by die provinsiale strukture van die georganiseerde landbou beskikbaar wees. Maree het boere aangemoedig om elektrisiteit te bespaar en hulle herinner Eskom verwag dat Februarie en Maart moeilike maande gaan wees.
Dr. John Purchase, hoof- uitvoerende beampte van die landbousakekamer Agbiz, het op ’n Nedlac-vergadering is gesê die huidige kragprobleme kan minstens drie tot vier jaar duur. “Die vraag wat ondernemings hulself nou moet afvra, is hoe hulle die probleem op die beste manier binne hul sake-omgewings gaan bestuur. Elkeen moet sy eie risiko’s bepaal.”
Purchase sê in die landbousakesektor word veral ondernemings geraak wat gewoonlik dag- en nagbedrywighede het, soos meulens, of diegene vir wie die verkoelingsketting baie belangrik is. “Baie van dié ondernemings het kragopwekkers, maar die koste om dit te gebruik, is baie hoog. Nie alle verwerkers sal hierdie koste kan absorbeer nie en ’n mens kan vra of beurtkrag só ’n invloed op kospryse gaan hê.” Maree sê die koste van diesel vir kragopwekkers gaan op lang termyn druk op boere se kontantvloei en winsgewendheid plaas.
In die suiwelbedryf moet 600 000 koeie elke dag elke agt of 12 ure gemelk word. Turner sê die meeste melkerye is gerat vir kragonderbrekings, omdat melk so ’n sensitiewe produk is en koeie op ’n spesifieke tyd gemelk moet word, maar melkboere het byvoorbeeld nie kragopwekkers vir pompe wat water aan koeie voorsien nie.
Maree sê Eskom vra boere moet toerusting tydens beurtkrag afskakel, omdat ’n groot vraag na krag ná die tyd tegniese probleme op kraglyne veroorsaak. Boere aan die Oranjerivier se pompe is beskadig toe dit ná beurtkrag weer aangeskakel het.