Dit is belangrik vir die toekoms van die landbou in Suid-Afrika dat boere hier ’n sterker posisie in die buitelandse mark kry, het mnr. Henk Bleker, Nederlandse minister van landbou en buitelandse handel, gesê.
Bleker het Suid-Afrika besoek om handels- en beleggingsbande in die landbou, vervoer en logistiek en water en tegnologie te versterk. Bleker sê dat nie net die kommersiële boere beter toegang tot die Europese mark moet kry nie, maar ook die opkomende swart boer se handelsposisie moet versterk word.
“Ons wil daartoe bydra.” Die Nederlandse regering se driejaar-program om volhoubare handel in vrugte deur opkomende boere te verseker, is reeds sterk aan die gang. Dit het die weg help baan vir dié boere se produkte om te kan voldoen aan die vereistes vir die plaaslike en internasionale mark.
Toegang tot markte
Bleker sê dat talle boere spesialiste op hul gebied is, maar dat jy ’n “kommersiële man” nodig het om die regte toegang tot die markte in Europa te kan kry.
“Om ’n sterk posisie in die handelswaardeketting (tussen die boer en die Europese verbruiker) te kry, is dit belangrik vir boere om ’n billike en stabiele prys te kry.” Bleker het aangedui dat verskeie Nederlandse provinsies belang stel om in Suid-Afrika te belê.
“Ons het reeds ’n goeie invoer- en uitvoerverhouding met Suid-Afrika, veral in tee, koffie en vrugte,” het hy gesê. Die Nederlandse regering het ’n oorgangstrust opgestel om inisiatiewe te steun wat handel en belegging tussen die twee lande sal laat toeneem. Suid-Afrika is een van slegs drie lande wat by dié trust sal baat vind.
20 Oktober 2011