Landbou moet sexy gemaak word sodat meer jong mense na dié sektor gelok kan word, het me. Tina Joemat-Pettersson, Minister vir Landbou, Bosbou en Visserye gesê.
Joemat-Pettersson was een van die sprekers op ’n beraad oor voedselsekerheid in Kaapstad wat deur Omega Investment Research aangebied is.
Jong mense onder 14 jaar maak nou 42% van Afrika se bevolking uit. Dit is hierdie jeugdiges, veral die meisies, wat die boere en agro-entrepreneurs van die toekoms kan word.
Dit was nog altyd moeilik vir regerings om kundiges na landelike gebiede te lok of om migrasie na stedelike gebiede te keer.
Dit is bekend dat Afrika die vinnig groeiendste bevolking en die hoogste koers van verstedeliking ter wêreld het. Daar word voorspel dat die meeste van die vasteland se bevolking teen 2050 in stede sal woon.
Joemat-Pettersson het gesê voedselonsekerheid heers steeds in landelike gebiede. Sedert 1998 het 33% meer Suid-Afrikaners in armoede verval. Sy meen die landboubedryf moet nie net sexy gemaak word om jong mense te lok nie, maar ook finansieel aantreklik.
“Ons kan nie ’n geslag hê wat nie wil boer nie. ’n Geslag wat boerdery sien as die dra van safari-pakke, kakiebroeke en hoog opgetrekte sokkies met ’n kam daarin nie. As mense geld uit die landbou kan maak, of dit nou primêre landbou of langs die waardeketting is, het ons dit sexy gemaak,” het sy bygevoeg.
Dit sal meebring dat meer jeugdiges na die bedryf getrek word en die grootskaalse migrasie na die stede verminder word. “Ons agenda is om die jeugdige entrepreneurs in landboukenners regoor die landbouwaardeketting te ontwikkel.”
Sy het haar kommer uitgespreek oor gesogte landbougrond wat vir eiendomsontwikkeling gebruik word. “As ek weier om sulke grond oor te dra, word ek daarvan beskuldig dat ek in die pad van ontwikkeling staan,” het sy gesê.
Sy het verder uitgewys dat kleinskaalse boerdery vir baie mense die pad uit armoede is. In Suid-Afrika word dit egter as die omkeer van grootskaalse landbou gesien en daarom was daar nie grootliks daarop gefokus nie.
Mnr. Jay Naidoo, ’n voormalige minister in onder meer die Presidensie en voorsitter van die Global Alliance for Improved Nutrition (GAIN), het via video-verbinding vanuit Kaïro gesê dat vir elke een graad wat die temperatuurvlak weens klimaatsverandering styg, lei dit tot ’n 10%-daling in die produksie van landbougewasse.
Dit terwyl daar ’n groeiende middelklas in China en Indië is wat die vraag na dierprodukte en grane sal laat styg. Om Afrika se probleme te vererger, vergryp ontwikkelde lande die orige bewerkbare landbougrond op die vasteland.
Nagenoeg 150 miljoen hektaar van dié grond is uitgekontrakteer om die bevolkings van lande buite Afrika te ondersteun, terwyl sowat 240 miljoen mense in Afrika deur voedselonsekerheid bedreig word, het Naidoo gesê.
Hy meen Afrika sal slimmer moet word oor die gehalte, die hoeveelheid en die volhoubaarheid van die kos wat hy produseer.
11 Mei 2011