
Die landbousektor sal nie ernstig opgeneem word as só min anderskleuriges aan die georganiseerde landbou deelneem nie, het mnr. Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, op Mpumalanga Landbou se jaarkongres op Berg-en-Dal gesê.
“Soos wat hier vandag net enkele swartes onder die baie wit boere is,” het hy sy uitspraak verduidelik. “Hoe sal julle deur die ander kant ernstig opgeneem word?
“Ek is positief oor die landbou, want dit is 'n bedryf wat gaan werk en wys wat gedoen kan word,” het hy bygevoeg. Indien die landbou met die nuwe Minister van Landbou, mnr. Senzeni Zokwana, wil onderhandel, moet die hele sektor egter eers op bepaalde kwessies eenstemmigheid bereik, soos grondhervorming, en 'n gemeenskaplike plan op die tafel plaas. Die landbou moet ook 'n gesamentlike gespreksleier kry “wat soos die nuwe Suid-Afrika lyk en nie soos die landbou van die laaste 30 of 40 jaar nie”.
Hy is by baie bemagtigingsprojekte betrokke en daar is die eienaar bereid om 'n deel van sy eiendom of besittings prys te gee. “Hoekom dink die landbou hy is anders?” het hy gevra. Gelukkig is daar oorgenoeg landbouers wat ernstig is dat grondhervorming moet werk.