
'n Geleentheid bestaan in die mark vir boere om regstreekse voordeel uit die koopkrag van die verbruiker te trek, mits hulle in hul infrastruktuur belê, sê mnr. Ernst Janovsky, hoof-landbou-ekonoom van Absa.
Janovsky het op die nasionale kongres van die Rooivleisprodusente-organisasie op Parys gesê die verbruiker behoort tans aan die kettinggroepe, soos Pick 'n Pay, Checkers en die OK.
"Suid-Afrika se ekonomie is nie so sleg soos algemeen aanvaar word nie. Daar is baie positiewe elemente," se hy.
Van die gunstige ekonomiese bewegings is in die rooivleisbedryf is te sien in die uitvoer van byvoorbeeld beesvleis. "Die uitvoer van rooivleis is een van die ekonomiese stimulante. Indien goeie reën binnekort voorkom, sal die ekonomie nog meer voordelig geraak word. Ons is derhalwe baie optimisties oor die rooivleisbedryf."
Uitdagings in die landbou
Een van die uitdagings waarvoor die landbou te staan kom, is die uitwerking van die wisselkoers, wat die invoer- en uitvoerpariteitspryse raak. Die uitwerking van die afgelope droogte is nog een van die beperkende faktore wat onder meer die kuddegroei by veeboere raak.
"Na my mening sal boere wat hierdie twee beperkings in balans kan kry, nog meer geleenthede ontgin vir 'n beter inkomste uit die landbou.”
Nog 'n bemoedigende neiging vir Suid-Afrika se ekonomie en politiek is die heersende regsbeginsels wat die land as 'n regstaat herbevestig het en ook die wakende oog van die internasionale gemeenskap wat met die swaard van hergradering plaaslike dienslewering verseker. "Dit is die ideale toestand: Lewer beter dienste en stimuleer die ekonomie. Wat wil jy beter hê?” vra hy.