
Die landboubedryf en boere moet verbruikers inlig oor die feit dat die bedryf nie vir stygende pryse verantwoordelik is nie.
Prof. André Jooste, senior bestuurder van die mark en ekonomiese navorsingsentrum by die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR), meen dit is ’n baie belangrike stap wat die landbou moet neem.
Hy het melkprodusente Donderdag (25 Augustus 2011) op die jaarlikse kongres van die Melkprodusente-organisasie (MPO) Noord aangemoedig om verbruikers te laat verstaan watter aandeel van die verbruikersrand in ’n melkboer se sak eindig.
Ander veranderlikes
Volgens ’n opname wat die NLBR onlangs gedoen het, is bepaal dat ’n melkboer vir elke twee liter melk wat verkoop word net meer as ’n derde van die verbruiker se rand verdien.
“Gedurende die tydperk van die opname het twee liter melk R14,40 gekos, en die boer het slegs R5,00 van daardie bedrag gekry,” verduidelik Jooste.
Jooste sê dit is duidelik dat hoë pryse tans deur ’n ander stel veranderlikes aangespoor word, wat boere se inkomste ook beïnvloed.
“Die grootste aanspoorders is die styging van die elektrisiteits- en brandstofprys. Sedert 2008 het elektrisiteitskoste alleen met 123% gestyg.”
Volgens voorspellings sal die landbou, wat slegs 3% van die land se krag gebruik, teen 2012 sowat R3,7 miljard aan elektrisiteit spandeer.
“En nou wonder ek net, interessantheidshalwe, as die bedryf net 3% gebruik, hoekom is daar nie vir boere ’n korting op die gebruik van elektrisiteit, soos wat met brandstof die geval is nie?”
25 Augustus 2011