Daar is ’n paar sake wat die landbousektor in orde moet kry om ’n goeie toekoms te verseker, het prof. Mohammad Karaan, dekaan van die fakulteit landbouwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch en lid van die nasionale beplanningskommissie, op ’n boeredag op Garies gesê.
Die eerste ding wat die landboubedryf moet doen, is om verenigde, nie-rassige organisasies te vestig. “As ons nie ’n landbou-organisasie skep wat nie-rassig is nie, gaan niemand met ons praat nie. Ons moet eers die skeiding breek voordat ons hulp kry om die landbou te bevorder.”
Karaan sê organisasies en verenigings moet nie net om politieke redes verenig nie, maar ook omdat dit mense in die landbou sal verbind tot ’n groter mate van vrywilligheid. ’n Groter gees van vrywilligheid sal die hele samelewing laat vooruitgaan.
Vir hom bly dit jammer om te sien hoe verdeeld die landbou nog is ondanks die groot vrywilligheid wat boere reeds openbaar. “Die landbou is een van die beste georganiseerde bedrywe vanweë die groot gees van vrywilligheid wat daar heers. Dit bly tog ’n tragedie hoe verdeeld die bedryf nog is.”
22 Oktober 2010