
Dit volg nadat AfriForum aangekondig het dat hy saam met die kantoor van die opperhoof van die AmaBhele-koningshuis, Zwelethando Mabandla, Saai en hulle landbou-ontwikkelingsvennoot, Agri All Africa (AaA), die eerste stappe gedoen het vir die gesamentlike landbou-ontwikkelingsprojek in die AmaBhele kaJamangile- tradisionele gemeenskap.
“ ’n Klem op kommersiële boerdery waaraan plaaslike boere en organisasies soos Die Kooperasie deelneem, gekombineer met ’n gees van samewerking met tradisionele gemeenskappe en opkomende boere, sal onontbeerlik wees vir die toekomstige sukses van enige landbou-ontwikkeling in die gebied,” sê mnr. Dirk Hanekom, uitvoerende van AaA.
AfriForum en Mabandla se kantoor het vroeër vanjaar ’n wedersydse erkenning en samewerkingsooreenkoms onderteken om deur landbou-ontwikkeling saam te werk om ekonomiese, maatskaplike en kulturele ontwikkeling in die area te bevorder.
Luidens die verklaring het verteenwoordigers van die vier belangegroepe, sowel as rolspelers in die landbousektor in die Oos-Kaap, soos Die Kooperasie, plaaslike kommersiële boere, Hunt SA, die landbousendelingsorganisasie Farming God’s Way, en die vrugtebemarker en uitvoerder SAFPRO, onlangs vergader om raad in te samel vir die projek.
Tydens die byeenkoms het verteenwoordigers van Die Kooperasie inligting gegee oor hul dienste en landbou-ondernemings wat hulle tans in die landelike gebiede van die Oos-Kaap ondersteun. Kommersiële boere van Nqanqarhu (Maclear), wat naby aan die AmaBhele kaJamangile- tradisionele gemeenskap geleë is, is geraadpleeg oor plaaslike toestande en die landboupotensiaal en probleme in die gebied.
Hunt SA het raad gegee oor hoe moontlik internasionale blootstelling vir die landbou-ontwikkelingsprojek tot stand gebring sal word, terwyl Farming God’s Way raad gegee het oor hoe hy ondersteuning van gemeenskapslede benader om landbouproduksie met minimale hulpbronne te begin. SAFPRO het meer inligting verskaf oor die landbouwaardeketting en sy benadering tot die ondersteuning van opkomende boere.
“Ons tradisionele gemeenskappe was histories outonoom en selfvoorsienend. Verskillende stamme het in hul eie ruimte gebly binne eiesoortige waardes en gebruike, terwyl hulle mekaar se identiteit gerespekteer het,” sê prinses Bhelekazi Mabandla, hoof van die koninklike diplomatieke diens van die Mabandla- koninklike familie.
“Die instelling van tradisionele leierskap is die struktuur wat stabiliteit in landelike areas verskaf. Dié instelling het ook ’n rol om te speel om selfstandigheid en outonomie te laat herleef deur projekte soos hierdie landbou-ontwikkelingsprojek – met die samewerking van ander kultuurgemeenskappe en belanghebbendes.”
Voortreflike werk
Mnr. Barend Uys, hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, sê verskeie belanghebbendes verrig voortreflike werk verrig wat landbou-ontwikkeling in die Oos-Kaap betref.
“Ná interaksie met soveel organisasies en mense wat so ’n optimistiese ingesteldheid het en nie net praat nie, maar reeds doen, is ek seker dat ons ook dié beoogde landbou-ontwikkelingsprojek met die hulp van ’n netwerk van toegewyde belanghebbendes suksesvol sal kan uitvoer."
“Die grondslag vir die herlewing van suksesvolle boerderybedrywe in die afgeleë landelike gebiede van die Oos-Kaap is die herstel van vertroue in familieboerderye,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.
“Dit moet gekoppel wees aan ’n waardeketting-ontwikkelingsbenadering om hande te vat met die wat kan en wil, met ’n diepe geloof in ons Here se genade en liefde.”
Die beoogde uitkoms van die raadplegingsproses is ’n bestekverslag en die ondertekening van ’n memorandum van verstandhouding, met die finalisering daarvan wat einde Julie verwag word.