
TLU SA versoek boere om van die organisasie en Sakeliga se steun te gebruik in verband met die raad vir toesig op die uitvoer van bederfbare produkte (PPECB) se versoek aan sy kliënte om ’n afskrif van hul B-BBEE-sertifikate te verskaf.
Die PPECB het op 19 Oktober verlede jaar ’n kennisgewing aan sy kliënte gestuur waarin hulle versoek word om ’n afskrif van hul B-BBEE-sertifikaat aan hul relevante PPECB-kantoor te stuur. Luidens ’n verklaring deur die PPECB is die doel hiervan om die vlak van voldoening van die landbousektor as geheel te bepaal, nie die vlak van voldoening van individuele entiteite nie.
“Die PPECB wil ook duidelik maak dat hy nie diens sal opskort of weerhou van sy kliënte wat nie aan die B-BBEE-status voldoen nie. Maatskappye wat nie daaraan voldoen nie, kan dus in hierdie stadium steeds uitvoer,” lui die verklaring.
TLU SA meen egter hoewel die PPECB se versoek aan sy kliënte om hul B-BBEE-sertifikate te verskaf tans nog nie hul uitvoerstatus beïnvloed nie, is daar groot kommer dat dit die volgende stap van die organisasie sal wees. Daarom wil TLU SA met die samewerking van Sakeliga boere bekwaam om die kwessie aan te pak.
“In die beëdigde verklaring wat boere saam met die verwagte sertifikaat moet indien, stel TLU SA en Sakeliga voor jy voeg vier paragrawe by om jou te beskerm en te help met die oog op die toekoms,” sê mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.
“Met bewoording soos ‘tans’, ‘in hierdie stadium’, ens. wys dit duidelik dat die gebruik van B-BBEE-sertifikate in die toekoms ’n invloed gaan hê en daarom is dit belangrik dat ons nou optree om ons boere te bekwaam vir die kwessie.
“Dit is om hierdie rede dat ons ook ’n veldtog begin het om boere maklik toegang tot ons hulp te gee en om die publiek die geleentheid te gee om hul stem en steun aan ons land se boere en ekonomie te gee.”
Boere kan toegang tot dié vier paragrawe kry deur https://tluveldtogte.co.za/boere-beskerm-jou-uitvoere/ te besoek en jou epos-adres in te vul.