Die landbou word gereeld verkeerdelik as ‘n slaansak gebruik wanneer oor waterbesoedeling gepraat word, sê dr. Gerhard Verdoorn, ‘n chemikus van die Griffon-Gifinligtingsentrum en die Vereniging van Dieregesondheid- en Plantbeskerming van Suid-Afrika. Hy was ‘n spreker op die TLU SA-kongres in Pretoria.
“Wanneer na die Loskop-opvangsgebied en die Olifantsrivier verwys word, word maklik vinger na boere gewys, maar die besoedeling wat in dié gebiede voorgekom het, is alles ‘n regstreekse gevolg van besoedeling deur myne,” vertel Verdoorn.
Verdoorn sê in die meeste gevalle, waar die landbou geblameer word, is die chemiese deeltjies van landbouverwante stowwe wat in die water-aflope voorkom só weglaatbaar klein dat dit nie genoem hoef te word nie. “Jy kan egter maklik bewys dat die aliminiumvlak 500 keer hoër as die toelaatbare vlak is, en dít dui op besoedeling vanuit ander oorde.”
Veiligheid van voedsel
Volgens Verdoorn gaan dit vir die landbou bitter moeilik raak om met sy bedrywighede voort te gaan as dinge soos tans voortgaan. “Die veiligheid van voedsel begin ook ‘n reuse-probleem word.”
Verdoorn reken dat daar reeds van die plaaslike produkte is wat nie veilig is om uit te voer nie. “Die besoedeling van ons water en natuurlike hulpbronne (wat grond en lug ook insluit) kan ons gewasse ongeskik maak vir uitvoer.”
Wat oplossings vir die probleme soos suur mynwater betref, sê Verdoorn hy is nie seker wat gedoen kan word om die situasie betyds op te los nie. “Ek sien nie vinnige oplossings nie. Die wette wat daar is, word nie behoorlik toegepas nie, en dit kom voor of die staat hom nie aan raad steur nie.”
1 September 2011