
Nadat Suid-Afrika se ekonomie in die tweede kwartaal met 0,7% gekrimp het, het dit in die derde kwartaal kop opgetel en met 1,6% gegroei, volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) wat Dinsdag die nuutste BBP-syfer bekend gemaak het.
Die landbousektor, wat bosbou en visserye insluit, het met 19,2% gegroei danksy ’n styging in produksie van onder meer sekere gewasse en tuinbou. Die sektor wat die tweede sterkste groei in die aanbodkant van die ekonomie getoon het, was vervoer en kommunikasie met 3,7%.
Uitvoer het aan die vraagkant gesorg vir die grootste bydrae tot BBP met sy groei van 4,2%.
Huishoudelike besteding, ook aan die vraagkant, het met 0,3% gekrimp.
Herstel beweeg terug na vlakke voor covid-19
Die grootte van die ekonomie oorskry nou die pre-pandemievlakke, volgens SSA.
Reële BBP, gemeet aan produksie, was R1 161 miljard (konstante 2015-pryse) in die derde kwartaal, wat bo die vorige hoogtepunt van R1 152 miljard is wat in die vierde kwartaal van 2018 aangeteken is.
Hoewel reële ekonomiese waarde reeds in die eerste kwartaal van 2022 goed vertoon het teenoor vlakke voor covid-19, was die herstel van korte duur met die inkrimping van 0,7% in die tweede kwartaal wat grootliks toegeskryf word aan die vloede in KwaZulu-Natal.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.