Die Regering se planne om die landbousektor in een van sy grootskaalse werkskeppers te ontwikkel, blyk sover ongeslaag te wees.
Die aansuiweringsbegroting van die Nasionale Tesourie vertel ’n duidelike verhaal van teikens vir werkskepping wat nie deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye gehaal kon word nie.
Landbou sukkel
Oor die algemeen het dit in die eerste helfte van vanjaar nie so goed met dié sektor, die mynbou en die vervaardigingsektor gegaan nie.
Waardetoevoeging tot die landbou het gedurende hierdie tyd met 6,6% gestyg vergeleke met die vorige jaar, maar dit het gedaal in elk van die eerste twee kwartale van vanjaar. Dit is grootliks weens ongunstige weerstoestande wat oeste geraak het.
Vergeleke met die eerste ses maande van verlede jaar, het dienste in waardetoevoeging met 3,3% in die eerste helfte van vanjaar gestyg met sterk groei in al die sektore.
Stygende voedsel- en petrolpryse het inflasie opwaarts gedruk, wat van 3,2% in September verlede jaar tot 5,7% in September vanjaar gestyg het.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het ’n totale aanpassing van R245 miljoen gekry.
Voedselsekerheid belangrik
Mnr. Pravin Gordhan, Minister van Finansies, het in sy mediumtermyn-begrotingsrede gesê me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, se pogings om die landbou se handelsposisie te verbeter en meer steun aan opkomende boere te gee, is uiters belangrik vir voedselsekerheid en ook vir die werkskeppingspotensiaal wat met boerderyaktiwiteite gepaard gaan.
Hy het gesê die uitbreiding van die rol van die Land Bank om die sektor te steun, sal help om groei en werkskepping in die sektor te stimuleer.
Die departement se teiken om 32 567 werksgeleenthede vir die jaar in die agri-verwerkingsektor te skep, sal nie bereik word nie. Dit is hoofsaaklik weens die verlies van 17 000 werksgeleenthede in dié sektor tussen Maart en Junie vanjaar.
Die aantal kleinboere wat in die nuwe voorgestelde kommoditeitsverenigings gegroepeer moes word, is ook afwaarts tot 1 300 aangepas. Die departement wou 15 000 nuwe boere, 1 000 koöperasies met 15 lede elk, per jaar in die verenigings groepeer, maar net 617 kon in die eerste helfte van die 2011/’12 boekjaar daarby ingeskakel word.
Verder kon die departement in die eerste helfte van die boekjaar slegs 3 611 boere van sy mikpunt van 10 000 boere per jaar vestig.
Minder heeltydse werksgeleenthede
Die departement kon ook net slegs 14 heeltydse werksgeleenthede skep in sy werkskeppingsprogram vir gemeenskappe in plattelandse gebiede. Die beoogde 1 300 werksgeleenthede is tot slegs 65 vir die boekjaar aangepas.
Die Tesourie het R150 miljoen bewillig vir boere wat vroeër vanjaar deur vloede geraak is; R27 miljoen vir die bestryding van bek-en-klouseer in KwaZulu-Natal; R7 miljoen vir die bestryding van die H5N2-virus, oftewel voëlgriep; R208 miljoen vir suur mynwaterskade in die Witwatersrand; en R752 miljoen se voorwaardelike toelaes aan provinsies wat geld insluit vir die herstel van infrastruktuur wat deur die vloede beskadig is.
Projekte vir infrastruktuur kry meer as ’n miljard by en R105 miljoen is begroot vir die Verenigde Nasies se internasionale Cop17-klimaatberaad volgende maand in Durban.
25 Oktober 2011