
Volgens dié syfers het landbou, bosbou en visserye in die eerste kwartaal vanjaar R131 312 miljoen tot die BBP bygedra vergeleke met R 133 603 miljoen gedurende die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
Die vervaardigingsektor het veral tot die BBP bygedra. Die sektor het 0,6% tot die BBP bygedra en 4,9% gegroei. Petroleum-, chemiese, rubber- en plastiekprodukte het veral tot dié groei bygedra.
Voedsel en drank; basiese yster en staal, nie-ysterhoudende metaalprodukte, metaalprodukte en masjinerie; voertuie, onderdele en ander vervoertoerusting het ook noemenswaardig tot die sektor se groei bygedra.
Die handel-, spysenering- en akkommodasiebedryf het met 3,1% gegroei en 0,4% tot die BBP se groei bygedra.
Die finansiële, eiendoms- en sakebedryf het met 1,7% gegroei en 0,4% tot die BBP bygedra. ’n Toename in ekonomiese aktiwiteite is te danke aan ’n toename in versekerings- en pensioenfinansiering, steundienste, eiendoms- en sakedienste.
Die bedryf vir persoonlike dienste het met 1,1% gegroei en 0,2% tot die BBP bygedra. Die vervoer-, opberging- en kommunikasiebedryf het met 1,8% gegroei en 0,1% tot die BBP bygedra.
Verskeie bedrywe se groei word aan ’n toename in ekonomiese aktiwiteite toegeskryf.
Besteding
Volgens Statistieke SA het huishoudelike besteding in die eerste kwartaal met 1,4% toegeneem. Daar is veral op vervoer, voedsel, restaurante en kommunikasie bestee.
Die regering se verbruiksbesteding het 1% toegeneem.
’n Toename in indiensneming en besteding op goedere en dienste aangemeld.
Totale bruto vaste kapitaalvorming, veral in masjienerie en toerusting, het met 3,6% toegeneem.
Voorraad het in die eerste kwartaal met R4 miljard ingekrimp weens ’n afname in handel en probleme met elektrisiteit.
In- en uitvoer
Netto uitvoer het gedurende die eerste kwartaal afgeneem. Die uitvoer van goedere en dienste het met 3,9% toegeneem, meestal danksy ’n toename in die handel van voertuie en ander vervoertoerusting, mineraleprodukte, masjinerie en elektriese toerusting, en groenteprodukte.
Ingevoerde goedere en dienste het met 4,9% toegeneem. Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan ’n toename in die invoer van vervoertoerusting, mineraleprodukte, diere- en groentevet en -olies, papier en ander papierprodukte.
0,8% groei verrassend
Mnr. Paul Makube, senior landbou-ekonoom van FNB Agribesigheid, sê die kwartaallikse groei van 1,9% is beter as wat verwag is.
Dit is egter volgens hom verrassend dat die landbousektor groei van slegs 0,8% getoon het nadat dit in die vierde kwartaal van verlede jaar met 16,4% gegroei het. Dit is veral verrassend gegewe vroeë aanduidings van gunstige uitkomste met uitvoer. Die slagsyfer van vee is 17,5% hoër vergeleke met die vorige kwartaal gegroei en dit het ’n sterk prysomgewing geskep.
Die uitvoer van landbouprodukte, veral mielies, sagte- en steenvrugte, vrugtesappe en wol, het in die eerste kwartaal met 6% gegroei ten spyte van logistieke probleme weens die vloede in KwaZulu-Natal wat verskeie paaie, spoorlyne en hawens beskadig en internasionale handel geknou het.
“Die veerkragtigheid van die landbousektor en koördinasie met ander belanghebbendes in die waardeketting en Transnet het gehelp om ’n veel erger kwartaal vir landbouhandel te vermy.”
Hy sê stadiger groei is egter verstaanbaar as die swaar reënval aan die begin van die jaar in ag geneem word aangesien dit nie net oeste beskadig het nie, maar ook die aanplant van somergewasse vertraag het. As gevolg daarvan is, byvoorbeeld, mielie-aanplantings 5% minder vergeleke met die vorige seisoen. Dit het die vraag na kunsmis, en insek- en onkruiddoders laat daal.
Makube sê dit is ook noemenswaardig dat Suid-Afrika se grootste landbou-uitvoerbedryf, die sitrusbedryf, se oestyd gedurende die eerste kwartaal pas begin het en dus nie tot die sektor se totale groei kon bydra nie.
Die impak van die uitbreking van bek-en-klouseer, veral China se verbod op die invoer van diere met gesplete hoewe, word volgens Makube ook duidelik in die nuutste syfers weerspieël. China voer 22% van sy beesvleis en 70% van sy wol van Suid-Afrika af in.
Makube sê aangesien die eerste kwartaal ’n stil kwartaal vir die landbousektor is, word verwag dat die sektor se groei in die tweede kwartaal sal herstel danksy die oes van somergrane en oliesade, terwyl die sitrusbedryf momentum sal opbou.
Daar word ook verwag dat die effek van die La Niña-weerverskynsel normale tot bonormale reënval in Suider-Afrika sal veroorsaak.