
Die Internasionale Groen Week is die wêreld se grootste toonvenster vir landbouprodukte, voedsel en drank en word vanjaar vir die 80ste keer aangebied. Die 26 sale waarbinne die uitstallings aangebied is saam 130 000 vk meter groot. Dit is die grootste oppervlak nog en met ’n totaal van 1 658 uitstallers uit 68 lande is dit ook die meeste uitstallers in 44 jaar.
Mnr. Christiaan Schmidt, Duitse landbouminister het tydens ’n verwelkominggeleentheid vir bestuurslede van die Internasionale Federasie vir Landbou-joernaliste (IFAJ) gesê die Grüne Woche is nie net ’n skou nie, maar is ook een van die “mees intense landbou-byeenkomste” ter wêreld met die sowat 75 landbouministers wat aan gesprekke oor wêreldwye voeding en die landbou gaan deelneem.
Hy het ook na die onlangse tragiese skietery in Parys, Frankryk, verwys en gesê landbou-joernaliste staan nie los van die gebeure nie. “Dit is deel van julle professie en waaroor julle verslag doen eindig nie by voedsel en voeding nie. Dit gaan ook oor reg en verkeerd en julle moet ook veg vir vryheid van die media en ’n vrye gemeenskap. Alle mense moet vry wees om te skryf, praat en eet.”
Ander feite en syfers oor die Grüne Woche:
- Meer as 2 000 busse sal mense na die skouterein karwei
- Sowat 300 konferensies en seminare word terselftertyd gehou
- Sowat 150 vooraanstaande politici woon die skou by
- Die 5 000 joernaliste wat daaroor verslag doen kom uit 70 lande.
- Daar is sowat 25 verhoë waar kookdemonstrasie tergelykertyd plaasvind
- Meer as 10 000 diere en troeteldiere sal te sien wees
- In die blommesaal sal daar 37 000 blomme uitgestal word.
- Sowat 10 000 mense werk by die skou.
- Besoekers aan Berlyn sal sowat 150 miljoen Euro in dié tydperk bestee.