“Dit het gisteroggend (Dinsdag, 23 Oktober 2012) so net na 09:00 gebeur. Dis ’n groot verlies en ons is hartseer,” vertel me. Nellie Kruger, een van mnr. Pieter Meyer se vier dogters. Meyer, wat vir die afgelope 47 jaar geboer het, is skielik aan ’n hartaanval oorlede. Hy laat sy vrou, Hester, en dogters agter.
Meyer het in gr. 8 sy ouers in ’n motorongeluk verloor en is deur mnr. Frikkie en mev. Annie Lombaard ingeneem en as hul eie seun grootgemaak. Meyer het in 1967 ’n B.Comm.-graad in Rekeninge aan die Universiteit van Noordwes in Potchefstroom verwerf. Ná Lombaard se dood moes Meyer besluit of hy sy sakeloopbaan wou ontgin of wou gaan boer, en so het hy begin om grond by Annie te huur.
Me. Annerie Kruger, wat die laaste jaar saam met haar pa geboer het, sê haar pa het 47 jaar lank geboer. “Boerdery was in sy bloed. Hy het ’n groot passie vir boerdery en sake gehad en hy het altyd die nuus dopgehou om homself op die hoogte te hou.”
Gemeenskapsmens
Mnr. Jaco Maré, tweede ondervoorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê Meyer was ’n groot gees en ’n gemeenskapsman. Dít is duidelik uit sy lang lys van prestasies en van die organisasies waartoe hy behoort het. Me. Elmarie Joynt, woordvoerder vir Senwes, sê Meyer was voorsitter van Senwes se direksie tot en met 10 Oktober 2000. Hy was ook vanaf 19 September 1994 tot 2000 voorsitter van Sentraalwes-koöperasie.
Meyer was van 1981 af ’n bestuurslid van die Hartebeesfontein-boerevereniging. Hy het ook 10 jaar lank in die Mielieraad gedien, waarvan hy ses jaar lank ondervoorsitter was. Meyer was betrokke by die Nampo-Oesdag waar hy 12 jaar lank ’n hoofbestuurslid was en vir agt jaar in die dagbestuur gedien het.
Hy was ook ’n hoofbestuurslid van Agbiz (die Landboubesigheidskamer) en het vir ’n termyn van vier jaar as die tweede voorsitter van Agri Noordwes gedien. Mnr. Cor van Vuuren, die huidige voorsitter, sê Meyer het groot bydraes in die landbou gelewer, plaaslik en nasionaal.
’n Roudiens en begrafnis vir Meyer sal Vrydag, 26 Oktober 2012, vanuit die NG Kerk Hartebeesfontein gehou word.
Landbou verloor groot gees
’n Groot gees in die landbou, mnr. Pieter Meyer, ’n boer van Hartebeesfontein, is aan ’n hartaanval oorlede.