
Agri SA sê dit is ’n welkome ingryping in ’n krisissituasie, maar meer inligting is nodig oor die onmiddellike stappe en veral duidelikheid oor hoe die plan in die landbousektor toegepas gaan word.
Mnr. Kulani Siweya, hoofekonoom van Agri SA, wys daarop dat sowat 25% van Suid-Afrika se voedselproduksie afhanklik is van besproeiing en energie-intensiewe bedrywe, en dat die toepassing van die plan van deurslaggewende belang vir voedselsekerheid in Suid-Afrika is.
Hy sê ’n beperking tot 1 MW-opwekking sonder goedkeuring in die landbousektor maak dit onekonomies vir die sektor om in kragopwekking te belê. Daar is geen rede hoekom die 100 MW-toegewing nie vroeër ook na die landbousektor uitgebrei is nie.
“Die sektor kan baie bydra tot kragopwekking, maar die regering moet al die nodige beperkinge uit die weg ruim om private kapitaalbeleggings in kragopwekking binne die sektor te ontsluit.”
Ramaphosa het op 10 Junie aangekondig dat die limiet vir private kragopwekking binne 60 dae tot 100MW verhoog sou word.
Siweya sê die toename in beurtkrag het op ’n baie moeilik tyd vir die landbou gekom. Insetkoste, soos vir kunsmis en brandstof, het skerp toegeneem en met die onlangse rentekoersstyging sit Suid-Afrikaanse boere met ’n skuldlas van meer as R190 miljard.
Hy vra ook meer besonderhede oor die plan om oortollige krag in die netwerk terug te koop. “Agri SA sal alles moontlik doen om te verseker dat die sektor kan bydra tot die verligting van die energiekrisis, maar dan moet die regering nou die nodige stappe doen om dit vir die sektor moontlik te maak.”
In sy reaksie op die nuwe kragplan het TLU SA gesê daar is ’n paar idees waarmee die organisasie saamstem, veral die deur wat oopgemaak is vir private verskaffers om krag te lewer.
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder, waarsku egter solank die ANC voortgaan met sy transformasiebeleid, sal die poging tot herstel nooit heeltemal suksevol wees nie.
“Die kragplan is dalk in ’n klein mate ’n poging tot herstel van ’n transformasiebeleid waar die ANC deur middel van kaderontplooiing, swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie mense aangestel het wat eenvoudig net nie oor die vaardighede, kennis en kundigheid beskik wat nodig is om die werk te verrig nie. Dié mense sit nou in posisies waar hulle nie hul werk wil of kan doen nie.”
Sabotasie en vakbonde
Van Zyl sê daar is steeds binne Eskom ’n groep wat die kragvoorsiener se poging om krag te lewer, probeer saboteer vir eie gewin.
“Eskom moet sy huis in orde kry. Wat die president eintlik moes aangekondig het, was die afskaffing van transformasie. Net kundigheid moet ’n invloed hê.”
Hy meen die betrokkenheid van vakbonde moet ook in die kollig kom in die kragkrisis.
“Die belaglike looneise en stakings wat die vakbondlede gebruik om Suid-Afrika gevange te hou, is onaanvaarbaar. Hul optrede veroorsaak dat werkgewers in die algemeen al hoe meer wonder of dit nog die moeite werd is om werkers aan te stel.”
Met verwysing na die energiekrisiskomitee wat ’n groot invloed gaan hê, sê Van Zyl dat daar baie vrae is oor die presiese funksie, mag en kundigheid van die komitee.
“TLU SA se standpunt is steeds en sal altyd wees: Die beleidsomgewing moet verander. ’n Ommeswaai is nodig vir ware vooruitgang en sukses.”
Die netwerkorganisasie vir familieboere, Saai, sê ook hy verwelkom die regering se plan om die kragkrisis in Suid-Afrika om te keer. Mnr. Francois Rossouw, uitvoerende hoof, meen dit is ’n stap in die regte rigting.
“Die desentralisering van kragopwekking beteken dat meer deelnemers ’n bydrae kan lewer om die kragvoorsieningsnetwerk te stabiliseer. Dit maak ook die deur oop vir boere om nou ook met elektrisiteit te kan ‘boer’.”