Die landbousektor is bly dat die jongste syfers oor werksgeleenthede in die bedryf groei op `n jaargrondslag van 0,5% aandui. Statistiek SA het Dinsdag (8 Februarie), die arbeidsyfers vir die vierde kwartaal van 2010 bekendgestel.
Luidens die verslag is landbou twee van vier sektore wat groei rakende werkgeleenthede aangeteken het, met 3000 nuwe werkgeleenthede wat geskep is.
Kwartaallikse daling?
Volgens die statistiek is ‘n verlies van 13 000 werkgeleenthede wel op ‘n kwartaallikse basis aangeteken.
Hoewel mediaberigte reken dat dié daling aan die invloed van die onlangse vloede toegeskryf kan word, sê me. Elize van der Westhuizen, die hoofbestuurder van menslike hulpbronne by Agri SA, dat dit nié die geval is nie.
“Die vloede het nie tussen Oktober en Desember 2010 voorgekom nie. Die invloed daarvan sal eers in die syfers van die eerste kwartaal van 2011 gesien kan word. Ons skryf die daling aan die sikliese aard van seisoenale werk toe. Ons syfers loop altyd met ‘n kurwe weens seisoenale faktore”, verduidelik Van der Westhuizen.
Landboumaatskappye is positief
Intussen sê dr. John Purchase, die uitvoerende hoof van die Landboubesigheidskamer (LBK), ondernemings blyk positief te wees oor groei in die sektor se arbeidsmark.
“Maatskappye wat aan ‘n opname wat ons gedoen het, deelgeneem het, voorsien goeie groei in die ekonomie en hulle reken dat die sektor ‘n netto indiensnemingsyfer oor die volgende drie jaar gaan aanteken”, aldus Purchase.
Hy sê landbou-ondernemings is tans by heelwat projekte – rakende verwerking ens. – betrokke wat waarde tot die sektor gaan toevoeg en werk kan skep.
“Dit loop natuurlik saam met ‘n groter behoefte aan voedsel en dierlike proteïene, wat tot die ontwikkeling van nog hoenderboerderye, ens. kan lei”, verduidelik Purchase.
Ongelukkig twee pole
Purchase sê terselfdertyd het landboumaatskappy hulle kommer oor die vier wetsontwerpwysigings aan die Arbeidswet, wat in Desember 2010 in die staatkoerant geadverteer is, duidelik gemaak.
“Dit gaan oor die risikos wat dit kan meebring om persone in diens te neem, en die feit dat seisonale werkers dieselfde voordele en kontrakte as voltydse werkers moet kry. Dit skep vir werkgewers ‘n moeilike situasie. Ongelukkig skep dít twee pole aan die werkgeleentheidkwessie, en dis jammer”, sê Purchase.
9 Februarie 2011