’n Rabat op of kwytskelding van e-tolgeld in Gauteng is nodig vir boere, wat prysnemers is, om te kan oorleef, sê die TLU SA.
Luidens ’n brief wat dié organisasie aan mnr. S’bu Ndebele, Minister van Vervoer, gestuur het, vra mnr. Louis Meintjes, voorsitter, vir ’n vergadering met die minister om dié en ander kwessies te bespreek.
Meintjes sê boere beding pryse vir hul produkte op markte, en dít is die pryse wat hulle moet aanvaar – die pryse word nie weens duurder brandstof, hoër voertuiglisensiegeld of bykomende tolpaduitgawes aangepas nie.
Hy maan die minister verder dat as boere toenemend onder finansiële druk kom, dit voedselproduksie en die land se voedselsekerheid sal benadeel.
Volgens die organisasie betaal ’n boer tans R364 aan tolgeld om sy produk in een rigting van Bloemfontein na Johannesburg te vervoer.
Tolgeld vir eenrigtingvervoer tussen Komatipoort en Johannesburg beloop R863, tussen Musina en Johannesburg kos dit R672, tussen Durban en Johannesburg is dit R639 en tussen Swartruggens en Johannesburg kos dit R383. Dié tolgeld sluit die huidige tariewe van Sanral se e-tolstelsel uit.
Lisensies
Tweedens wil Meintjes probleme met lisensies vir werktuie wat primêr op plaasgrond en plaaspaaie gebruik word, onder die minister se aandag bring. Hy sê riglyne oor dié voertuie was nog altyd tegemoetkomend.
Die afgelope tyd het dit duidelik geword dat veranderinge intree met “yslike” stygings in lisensiegeld en die voorvereiste dat werktuie, soos trekkers, teen groot onkoste vir die boer na ’n geskikte toetssentrum geneem moet word.
11 April 2012