Die Minister van Landbou beland dalk in die hof omdat sy haar plig teenoor die landbousektor versuim.
Die georganiseerde landbou is keelvol vir die Regering se ontduiking van sy verantwoordelikhede ten koste van dié sektor. Die geveg oor grensbeheer en die toestand van Suid-Afrika se landgrense wat ’n bedreiging vir dieregesondheid inhou, kan moontlik in die hof uitgespook word.
Die Vleisbedryfsforum win tans regsadvies in oor die situasie. “Die Minister van Landbou en die Minister van Verdediging gooi die grenskwessie heen en weer tussen mekaar. Intussen sukkel ons om iemand te kry om verantwoordelikheid te aan - vaar. Al manier om aandag te trek, is die regspad,” het mnr. Dave Ford, voorsitter van die forum, aan Landbouweekblad gesê.
“Ons meen dit is die minister (van landbou) se verantwoordelikheid om alle nasionale veekuddes te beskerm teen dieresiektes wat oor landgrense hierheen kan versprei. Die huidige goeie vleispryse is ’n lokmiddel om vleis oor die grens te bring.
“Die minister besef nie hoe ernstig hierdie saak is nie,” het Ford gesê.
Die haglike toestand van veral die grens met Zimbabwe het onlangs weer ter sprake gekom met die uitbreek van die kleinveesiekte PPR (Peste des Petits Ruminants) in Tanzanië suid van die normale verspreidingsgebied.
Die georganiseerde landbou, verskeie veeartse en kleinveekundiges het hul kommer oor Suid-Afrika se grensbeheer en veral beheer in buurlande uitgespreek.
Lees die volledige berig in Landbouweekblad se uitgawe van 7 Januarie 2011.
Lees ook:
Biosekuriteit in die veebedryf
20 Desember 2010