
Aanvalle van regerings, omgewingsgroepe en ander bedrywe teen die landbou is nie iets wat net in Suid-Afrika voorkom nie. Mnr. Rick Tolman, die hoofbestuurder van die National Corn Growers’ Association (NCGA) van Amerika, sê: “Aanvalle teen die landbou deur omgewingsgroepe en ander bedrywe kom wêreldwyd voor. Die oliebedryf in Amerika bestee byvoorbeeld baie geld om boere se beeld te ondermyn.”
Tolman was een van die sprekers tydens Graan SA se jaarkongres op Bothaville op 9 en 10 Maart. Volgens Tolman het hulle derhalwe besluit om hul eie beeld te bevorder. Een van die stappe wat hulle gedoen het, is om met behulp van Syngenta leierskapskursusse vir boere aan te bied om hulle te leer hoe om boere se beeld te bevorder, hoe om in die openbaar te praat en met die media saam te werk.
Bou verbruikers se vertroue
Tolman sê deur middel van aggressiewe advertensieveldtogte het hulle die beeld van boere probeer verbeter en die publiek probeer inlig oor wat boere eintlik doen om voedselsekerheid te bevorder.
Die NCGA het ook veldtogte onderneem deur byvoorbeeld advertensies te gebruik om die publiek in te lig oor hoe voedsel geproduseer word. Tolman sê met behulp van die veldtogte lig hulle verbruikers in oor voedselveiligheid, asook die voordele verbonde aan die gebruik van nuwe tegnologie in die bedryf en op plase.
Volgens Tolman bestaan daar tans drie programme in Amerika waarvolgens boere toegang tot staatsubsidies kan kry. Hy sê een van die programme het die afgelope vier jaar nie die subsidies uitbetaal nie.
Hulle voorsien dat die proramme binnekort uitgefaseer gaan word weens streng kostebesnoeiing en die druk waaronder die Amerikaanse mark verkeer.
Samewerking
Goeie samewerking tussen Graan SA en die NCGA is moontlik, en Tolman reken dat Amerika dit kan oorweeg om mielies uit Suid-Afrika in te voer, veral aangesien dit blyk dat dié land se mielie-oes vir die huidige seisoen kleiner as verwag gaan wees.
“Ek is beïndruk oor wat julle alles in Suid-Afrika doen, en ons sien julle nie as ons mededingers nie. Ons moet almal saamwerk om die wêreld te voer,” aldus Tolman.
9 Maart 2011