
“Daar is groot onsekerheid regoor die wêreld, maar in die Suid-Afrikaanse konteks maak die droogte, die tegniese resessie en die land se afgradering na sub-beleggingsgraad dit nie makliker om vorentoe te kyk en besluite te neem nie,” het dr. Mmatlou Kalaba, koördineerder van handel- en bedryfsanalise by die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), gesê tydens die organisasie se Kaapse bekendstelling van hul vooruitskouing tot 2026.
Volgens Kalaba dryf grondhervorming, transformasie en voedselsekerheid kommer oor beleid tans op die spits. “Daar is ’n kritieke behoefte aan beleid wat kan help om dinge duideliker te maak sodat ons sekerheid kan skep, veral op gebiede waar ons nog iets kan doen aan al die uitdagings wat ons in die gesig staar.”
Hy het grondhervorming uitgesonder as die “olifant in die vertrek” wanneer dit by beleidsekerheid kom. “ ’n Oudit sal help om sekerheid te begin skep. Ons het bruikbare inligting nodig wat ons kan gebruik om oor die grondhervormingskwessie te debatteer. Ons moet weet presies hoeveel grond is geoudit. In ’n onsekere omgewing het ons meer vrae as antwoorde en dit is nie bevorderlik vir debat nie.”
Kalaba sê te veel syfers word “rondgegooi” wanneer dit by die neem van besluite kom. “Enige een haal inligting aan wat vanuit hul oogpunt aanvaarbaar is, maar dit kan gevaarlik wees wanneer dit by besluitneming kom.”
Afrika-mark groei
Volgens Kalaba kan Suid-Afrika nie juis peil trek op lesse uit die verlede nie, want die land was nog nooit in ’n bootjie waar ’n resessie saamgeval het met ’n droogte én swak kredietgraderings nie.
“Ons het ’n hoë werkloosheidskoers en ’n ekonomie wat teen minder as ’n helfte van inflasie en minder as ’n kwart van bevolkingsgroei groei. Ons het nie net nuwe beleid en idees nodig om on suit hierdie gat te trek nie, maar die implementering daarvan is ook belangrik.”
Na verwagting sal daar teen 2050 sowat 2 miljard mense in Afrika woon. Dis meer as dubbel die hoeveelheid mense wat tans op die vasteland woon. Die groter bevolking sal ook ’n groter vraag na kos beteken. Me. Lulama Ndibongo-Traub, ook van die BFAP, sê hoewel Afrika steeds enorme hoeveelhede kos invoer, vind al hoe meer handel tussen Afrika-lande ook plaas, veral met produkte soos vrugte, groente, diere- en plantaardige olies en vis.
“Suid-Afrika is verantwoordelik vir die meeste van hierdie handel, maar ons vermoë om vorentoe in die groeiende vraag en verwerkingsgeleenthede te voldoen, gaan afhang van wat ons beleidsmakers op eie bodem doen.” Sy het gepleit vir beleid wat die risiko en koste verminder van primêre én sekondêre produksie.