
Landbou.com wys 'n nuwe gesig nadat dit die afgelope tyd onder die spreekwoordelike mes was.
Die Landbou.com-redaksie en die span wat die webwerf herontwerp en oorgebou het, het die afgelope tyd skouer aan die wiel gesit en ons vertrou dat die nuwe webwerf in jou smaak sal val.
Die webwerf moes oorgebou word omdat die platform waarop dit aanvanklik gebou is, begin wankel het onder die groter volume van verkeer en lesersbetrokkenheid, waarvoor ons verheug is. Dié veranderinge was onafwendbaar.
Meeste van die veranderinge is in dit wat jy sien, sonder om aan die kategorieë te peuter. Enkele nuutjies is egter bygevoeg, soos die weer. Webgebruikers sal die weer op sy plek - hetsy dit ’n stad, dorp of jou plaas is, kan aanvra. Dié nuttige weeraanbieding is ’n eerste vir ’n webwerf in Suid-Afrika, en as jy eers jou plek aangeteken het, kry jy ook ’n voorspelling vir die volgende ses dae.
Adeling vir die gesin
Ander vernuwings is ’n afdeling vir die Gesin, waar ons heelwat meer inligting vir vroue en gesinsake wil aanbied, asook ’n afdeling vir Troeteldiere.
Lesers sal nou ook meer kan saam gesels oor landbousake wat hulle raak op die nuwe Praat Saam-afdeling. Hier sal jy jou opinies, briewe en foto’s met Landbou.com én ons lesers kan deel, en beter funksionaliteit om met Facebook en Twitter te kan kommunikeer.
Ons vra jou geduld om aan die nuwe webwerf gewoond te raak. Dit neem gewoonlik ’n rukkie voordat gebruikers tuis voel op herboude webwerwe, maar iemand het eendag gesê: As niks verander nie, bly alles dieselfde.
Stuur jou kommentaar oor die nuwe webwerf aan webred@landbou.com sodat ons daaraan aandag kan gee.
Maar, bly by Landbou.com – Boer op ons werf.
Die Landbou.com-span
30 Mei 2012