
Siyaburi, die trofeeram van mnr. Julian Theron wat op die voorblad van Landbouweekblad van 7 Maart gepronk het, is deur BKB en die Landbouskrywers SA as Foto van die Jaar aangewys. (Sien vergroting van foto onderaan berig.)
Dié voorbladfoto van Siyaburi is op 22 Januarie tydens ’n besoek aan die plaas geneem en het aan Johan Norval van Landbouweekblad se Vrystaatse kantoor met die louere in die jaarlikse BKB-fotowedstryd laat wegstap. (Die fotokompetisie se uitslae is saam met die Boer van die Jaar-toekennings aangekondig.)
Twee weke ná die foto geneem is, is die springbokram dood in die veld aangetref. Hy het skynbaar aan natuurlike oorsake gevrek. Een troos is dat sy horinglengte nou in die rekordboek pryk. Siyaburi se horings is deur ’n bekende taksidermis in Johannesburg gemeet en sy bevinding was onderskeidelik 19 duim en 18¾ duim, met basisse van 6½ duim. Dit verbeter die rekord vir Suid-Afrikaanse springbokke met ’n allemintige 2? duim (volgens die SCI-metode) en is ook in die gesamentlike derde plek vir die grootste springbok in die Rowland Ward-rekordboek.