Die gewildheid van landbougrond neem toe onder huiskopers, wat vasgedruk in die stad voel, sê RealNet Plotte & Plase.
Luidens ‘n berig op Property24.com sê mnr. Osie van Niekerk die oop spasie van ‘n kleinhoewe of ‘n plaas trek baie nuwe toetreders tot die mark.
“Baie kopers is nie van plan om te begin boer nie, maar saam met dié ruimte kom ‘n sekere hoeveelheid vryheid,” sê Van Niekerk. Hy sê verskeie van dié kopers skuif uiteindelik hulle sake-ondernemings na hulle eiendom toe of hulle maak gastehuise op die plase of kleinhoewes oop, wat glo ‘n konstante inkomste bied.
Landelike leefstyl gesog
‘n Tweede aantrekkingskrag van die platteland is die landelike leefstyl. Van Niekerk sê sy tak bied spesifiek kleinhoewes en plase teen die oostelike en suidelike grense van Pretoria aan kopers, en dié dele bied pragtige landskaptonele met bebosde gebiede en ‘n ryk voëllewe.
“ ’n Groot bonus is die goeie gemeenskapsgees wat tussen kleinhoewe-eienaars heers, en dit lei tot goeie verhoudinge tussen bure wat inwoners in staat stel om misdaad te kan help beveg,” vertel Van Niekerk.
Hy sê pryse vir nie-ontwikkelde eenhede met ‘n boorgat en grondpad begin rondom R600 000, terwyl nie-ontwikkelde eenhede langs ‘n teerpad by R800 000 begin. Kleinhoewes met huise op se pryse begin by R1,5 miljoen.
Bron: Property24.com
16 Februarie 2012