
Ná klagtes oor agteruitgang by die Landboukollege Potchefstroom het landbou.com gaan ondersoek instel en op ‘n verwaarloosde kampus afgekom.
Die Noordwes Departement van Landbou, Omgewingsake, Landelike- en Omgewingsontwikkeling het onlangs aan landbou.com inligting verskaf dat alles in orde is by dié landboukollege.
‘n Besoek aan dié kollege het egter die teendeel bewys. Mnr. Marlo van Niekerk, voorsitter van AfriForum Jeug op die kampus, het verskeie probleme uitgewys.
Volgens die departement word die koshuise op die kampus weekliks skoongemaak, en is die verblyf van ‘n hoë standaard. ‘n Ondersoek blyk dat dié verblyf onder meer nie aan veiligheidstandaarde voldoen nie.
Kyk na foto's van die kollege se toestand.
Oxford-koshuis
Oxford-koshuis, die koshuis wat spesifiek vir senior studente bedoel is, het volgens Van Niekerk die meeste verval. Verskeie plafonne het groot gate in weens lekkende waterpype wat nie herstel word nie, wat tot gevolg het dat die plafonne nat word en inmekaar tuimel. Een student was glo in sy kamer toe die plafon ingegee het. Hy het nie beserings opgedoen nie.
Landbou.com kon net een brandslang in dié koshuis opspoor, maar dit is onseker of dié brandslang in ‘n werkende toestand is nie. Geen brandblussers kon gevind word nie, hoewel verskeie borde en kaste wat brandblussers aandui, sigbaar is.
Volgens die departement word die koshuise weekliks skoongemaak, maar baie van die badkamers in dié koshuis word nie meer gebruik nie, aangesien dit baie vuil is. Van die badkamers is in so ‘n swak toestand dat, wanneer studente stort, water deur die dreine opstoot en in die koshuis se gange afloop. Volgens Van Niekerk het verskeie studente al dié koshuis verlaat en verblyf in die dorp gaan soek.
Lees ook: Landboukollege ontken klagtes
Onveilige verblyf
‘n Ander koshuis op die kampus se deure kan nie sluit nie, aangesien die glasdeure stukkend is en die slotte uitgebreek is. Veiligheidshekke is voor die deure opgerig en word volgens Van Niekerk in die aand gesluit vir veiligheid. “Ons eiendom word gereeld uit ons kamers uit gesteel, want hier is nie eintlik iets wat iemand uithou nie,” vertel hy.
Gehalte van kos
Die eetsaal op die kampus is netjies, maar Van Niekerk sê hulle is nie tevrede met die kos waarvoor hulle bykans ‘n R1 000 per maand betaal nie. “Ons het al vier gevalle gehad waar kakkerlakke op die skinkborde rondgehardloop of in die kos was,” vertel hy.
Volgens mnr. Abri Wepener, ook ‘n student, het hy en een van die senior studente al ernstige voedselvergiftiging opgedoen weens die kos. Van Niekerk sê studente kry gereelde pap, stampmielies en lae gehalte vleis om te eet.
“Hulle koop die laagste graad vleis wat hulle kan. En as ‘n ‘treat’ gee hulle partykeer vir jou witboord, polonie en slaptjips. Ons kry miskien een keer per week groente en ons het in die eerste week van Maart dié jaar laas vrugte gekry.”
Die departement het onlangs aan landbou.com gesê dat kos van ‘n hoë gehalte aan die studente voorsien word en dat die spyskaart met behulp van die studente raad en ‘n dieetkundige opgestel is.
Lees ook: Geen kos by Potch Landboukollege
Wanbestuur
Volgens Van Niekerk het AfriForum Jeug ‘n skrywe aan die kollege gerig om te vra dat mnr. Serage Dippepeneneng, hoof van die kollege, weens wanbestuur uit sy pos moet bedank. Hy sê studente ondervind ook probleme om Afrikaanse notas vir hulle vakke te kry, en een van die dosente weier ook om klasse in Afrikaanse en Engels aan te bied.
Intussen is 'n formele klag oor die kollegehoof by die departement ingedien.
Die landboudepartement sê hy is nie bewus van die skrywe nie, en sê die situasie rondom die notas is reeds afgehandel. Van Niekerk kon egter nie sy notas aan landbou.com wys nie, want hy sê hy het dit nog nie ontvang nie.
‘n Algemene vergadering word glo dié week op die kampus gehou.
19 April 2010