Geen klagtes van wanbestuur is nog oor die Landboukollege Potchefstroom ontvang nie, sê Noordwes se departement van landbou.
In antwoorde op vrae van landbou.com sê die departement hy is nie bewus daarvan dat Afriforum Jeug die Openbare Beskermer gekontak het om wanbestuur by die kollege te ondersoek nie.
“Die enigste saak waaroor ons nog deur Afriforum geskakel is, is bewerings dat wit studente nie van Afrikaanse notas voorsien word nie. Hierdie saak is intussen uitgeklaar. Alle wit studente wat verkies om in Afrikaans klas te loop, is van Afrikaanse notas voorsien.”
Geen geldelike probleme
Volgens die departement bestaan daar ook geen geldelike probleme by die kollege nie. “Die kollege maak nie staat op student se gelde nie, dit word 100% deur die Regering befonds”.
Bewerings dat die eetsale en koshuise van die kollege in ‘n swak toestand is en dat kos nie na behore is nie, word ook ontken. “Die koshuise word weekliks skoongemaak en kos word bedien in die eetsale, vanaf ‘n spyskaart wat in samewerking met die studenteraad en ‘n dieëtkundige opgestel is”.
Intussen sê die departement sowat 20 studente het Woensdag aan ‘n protesaksie by die kollege deelgeneem, en die Polisie se hulp is ingeroep om kalmte op die kampus te bring. Skade is glo aan die kollege aangerig, aangesien van die studente glo voorwerpe in deurslotte ingedruk het.
Studente is ontevrede oor bepalings by die kollege dat studente vier jaar gegun word om die eerste twee jaar van hul studies te voltooi. Die studente dring glo daarop aan dat hulle onbeperkte tyd moet kry om hulle kursusse te voltooi.
Afriforum Jeug het vroeër ‘n verklaring uitgereik waarin hulle geëis het dat die hoof van die kollege moet bedank want die studente is glo huis-toe gestuur omdat daar nie meer kos op die kampus was nie. Die organisasie het daarvolgens glo ook ‘n versoek aan die Openbare Beskermer gerig om die kollege te ondersoek.
15 April 2010