Sonder om komiteelede in te lig het die voorsitter van die landbou-portefeuljekomitee Ghana toe gereis, pleks van ‘n geskeduleerde vergadering by te woon.
Die komiteevoorsitter, mnr. Lulu Johnson, het die portefeuljekomitee se vergaderprogram verander om self teenwoordig te wees wanneer Onderstepoort Biologiese Produkte, die Raad van Toesig op die Uitvoer van Bederfbare Produkte (PPECB), Nasionale Landboubemarkingsraad, en die Landbounavorsingsraad (LNR) later hul strategiese planne aan die komitee voorlê.
Mnr. Pieter van Dalen, DA-LP, meen die disfunksionaliteit in die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye maak die landbouminister en Johnson bang om brandende kwessies van landbou-instellings te bespreek.
Die komitee is reeds ‘n paar maande agter met sy werk en LP’s wat die vergadering bygewoon het, meen Johnson se optrede is dié van iemand wat probeer om die departement te beskerm. Dit is egter bekend dat Johnson en me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye nie langs een vuur sit nie.
Departement ‘het nie antwoord nie’
Van Dalen het gesê die Minister en die departement het nie antwoorde nie en daarom is hulle huiwerig om voor die komitee te verskyn.
Mnr. Salam Abram, ANC-LP, wou by die waarnemende komiteesekretaris weet wie die agenda verander het en met wie gekonsulteer was. “Ons los ander werk om hierheen te kom, dan is daar nie ‘n kworum nie, die agenda is verander en niemand het met ons geraadpleeg nie.” Hy het gesê dit is onaanvaarvaar dat die agenda verander is net omdat die komiteevoorsitter dit nie kon bywoon nie.
“Hierdie soort optrede maak dat ons ‘n grap word.” Volgens die nuwe agenda moes komiteeverslae bespreek word, maar komiteelede het nie die verslae betyds ontvang nie en amptenare van die departement was ook nie teenwoordig nie.
Mnr. Nqaba Bhanga, Cope-LP, was ook ontstoke omdat hy ander oorsigwerk in Port-Elizabeth moes los om die vergadering by te woon. Hy wou weet waarom die vergadering dan nie eerder gekanselleer was nie.
Me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir Landbou, Bosbou en Visserye, het uitgewys dat twee dae nou geskeduleer sal moet word sodat die instellings verslag aan die komitee kan doen. “Ons kan nie sommer die agenda verander omdat iemand nie hier kan wees nie,” het sy gesê.
17 April 2012