
Japan is die twaalfde land wat aangesluit het by die Agri-evolution Alliace (AeA), ’n organisasie wat hom beywer om die aansien van vervaardigers van landboumasjinerie wêreldwyd te verhoog.
Die alliansie het 'n agenda vir samewerkingsprojekte wat onder meer die nuwe "globale impak-verklaring" insluit. Die alliansie stel hom ten doel om landboubelange wêreldwyd te bevorder en om die globale begrip vir die kernrol wat landboumasjinerie speel in die volhoubaarheid van 'n groeiende wêreldbevolking te versterk.
Die Japan Agricultural Machinery Manuafacturers Association (JAMMA) verteenwoordig 64 vervaardigers van landboumasjinerie in dié land en brei gevolglik die betrokkenheid van die AeA na hierdie wêreldstreek uit. Behalwe vir Japan, is die volgende lande en streke reeds deel van die alliansie: Brasilië, die Europese Unie (EU), Frankryk, Duitsland, Indië, Italië, Korea, Rusland, Turkye, die Verenigde State van Amerika (VSA) en die Verenigde Koninkryk (VK).
'n Paar landboumasjinerie-verenigings het die alliansie in April 2012 gestig met die doel om wêreldwyd op gemeenskaplike terreine saam te werk. Die Association of Equipment Manufacturers (AEM), wat die VSA in die AeA verteenwoordig, behartig die alliansie se sekretariaat.
Mnr. Charlie O’Brien, die senior visie-president van die AEM, sê hulle wil die wêreldleiers meer bewus maak van hóé belangrik landboumasjinerie is om landbouprodusente se doeltreffendheid en produktiwiteit te verhoog, veral in die ontwikkelende lande van die wêreld.