Die Umzingwane-suiwelkoöperasie, sowat 60 km suidoos van Bulawayo, het £15 000 (sowat R320 000) ontvang as deel van ’n samewerkingsprogram tussen die Europese Unie, die skenkerorganisasie We Effect en verskeie Zimbabwiese landbougroepe.
Dit is daarop gemik om Zimbabwe se melkproduksie van 76 miljoen liter melk in 2020 tot 130 miljoen liter melk te verhoog. Die geld sal gebruik word vir sonpanele, ’n boorgat en koeltrokke. Die skenking verteenwoordig 70% van die begroting vir die projek. Boere sal die orige 30% betaal.
Die restaurantkettinggroep KFC moes vroeër vandeesmaand slaptjips met gebraaide ugali, ’n tipe stywe mieliepap, vervang ná die groter vraag sy voorraad aartappelskyfies oor Kersfees en Nuwejaar laat opraak het. KFC in Kenia voer aartappels in uit onder meer Egipte, Nederland en Suid-Afrika.