Die omstrede Grand Ethiopian Renaissance-dam se eerste hidroëlektriese turbine is op 20 Februarie aangeskakel. Bouwerk aan dié dam, 30 km van die Soedannese grens in die Blou Nylrivier, het in 2011 begin en groot wrywing tussen Ethiopië en veral Egipte veroorsaak omdat Egipte vir nagenoeg 97% van sy water van die Nyl afhanklik is.
Die dam is ook stroomop van Soedan, wat ook van die Nyl vir water afhanklik is. Die dam sal uiteindelik meer as 5 000 MW krag deur 13 turbines opwek.
Zambië het in die afgelope weke opgehou om talle vars produkte in te voer namate die plaaslike tuinbousektor se produksie toeneem. Van dié produkte sluit soetmielies, rooikool, klein tamaties, grondbone, Engelse komkommer, knoffel, gemmer, pynappel, okra en seldery in.