Astral Foods, die genoteerde hoenderprodusent, beoog om in die volgende jaar of twee sy aanlegte in Zambië teen sowat R100 miljoen uit te brei, te verbeter en te vernuwe, wat ook aanlegte vir braaihoenders sal insluit.
Die maatskappy se inkomste daar het die afgelope halfjaar met 47,5% gestyg, danksy groter produksie en verkope, maar ook die wisselkoers. Astral het sy belang in National Chicks Swaziland verkoop en is besig om dieselfde met sy belang in voer en braaihoenders in Mosambiek te doen.
Meer as 200 gevalle van miltsiekte is in die noordweste van die land bevestig ná ontleding van monsters van diere wat gevrek het. Daar het 91 beeste, 53 bokke en 79 skape in die dorp Tinkabere in die Port Loko-distrik gevrek. Dié bakteriële siekte kom natuurlik in die grond voor en is oordraagbaar na mense, maar is behandelbaar.