Mnr. Yoweri Museveni, president van Uganda, het onlangs tydens handelsamesprekings met mnr. Ramtane Lamamra, die Algeriese minister van buitelandse sake, ’n pleidooi gelewer dat dié land eerder uit Uganda melk invoer as uit Europa.
Museveni het ook ’n beroep gedoen op Algerië om in sy land se landbouwaardeketting te belê sodat meer waarde tot landbouprodukte in Uganda toegevoeg kan word. ’n Bilaterale sakeraad sal bespreek met watter goedere oor en weer handel gedryf kan word.
Zambian Breweries gaan in die komende 18 maande kapitaalbeleggings van $80 miljoen (R1,309 miljard) in sy Lusaka-brouery maak, wat bierproduksiekapasiteit sal verdubbel.