Die Zimbabwiese graanbemarkingsraad dreig boere met vervolging indien hulle nie hul mielies aan dié raad verkoop nie te midde van ’n swak mielie-oes en lae voorraad. Tog sê die Commercial Farmers Union dat talle boere nie ’n keuse het as om die bietjie mielies wat hulle het, vir eie gebruik terug te hou nie.
Boonop kan boere op die swartmark tot dubbel soveel kry as wat die raad aanbied — wat volgens die boere buitendien heeltemal te min is. Na verwagting sal die Zimbabwiese mielie-oes in die 2021-’22 seisoen met tot 43% daal.
Die Egiptiese suiwelgroep Domty het bevestig dat ’n konsortium bestaande uit beleggers in Egipte, Saoedi- Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate ’n aanbod gemaak het vir ’n 90%- belang in dié besigheid, luidens ’n kennisgewing wat vroeg vandeesmaand op die Egiptiese aandelebeurs bekend gemaak is.