Die Chinese mark is sedert 1 Julie oop vir kouebehandelde Zimbabwiese sitrus. Die ooreenkoms geld lemoene, mandaryne, pomelo’s, suurlemoene en lemmetjies. Boorde en pakhuise wat beoog om daarheen uit te voer, moet by die Zimbabwiese regering en die Chinese algemene doeane-administrasie registreer.
Die protokolle lys 15 plae van belang, onder meer verskeie vrugtevlieë, myte en swamme. Zimbabwe het in 2015 plaagrisiko-ontledings aan China voorsien, maar die protokolle is eers in Januarie vanjaar onderteken.
’n Geraamde 21 miljoen rooibekkweleas was teen druktyd besig om rys-, sorghum-, manna- en koringlande kaal te vreet in agt distrikte van Tanzanië. Die ongewoon groot swerms voëls is ook al in boerderygebiede in Botswana en Zimbabwe aangemeld.