Toe die Zimbabwiese graanbemarkingsraad in die eerste twee maande van die huidige bemarkingsjaar net 5 000 ton mielies van boere kon koop, het die ministerie van landbou die raad aangesê om ’n statutêre werktuig in te stel waarvolgens hy die alleenreg het om mielies van enige produsent te verkry – selfs deur beslaglegging en padblokkades.
Boere wil egter nie aan die raad verkoop nie omdat hul prys veel laer is as waarteen die staat mielies invoer. Mnr. Andrew Pascoe, voorsitter van die Commercial Farmers Union, sê boere sal aan die raad verkoop as hulle dieselfde pryse kry as die prys waarteen die raad invoer.
Die Namibiese Landbou-unie verwag vanjaar ’n goeie witmielie-oes van meer as 95 000 ton. Daarvan is tot 80% reeds aan meulenaars gelewer. Dié goeie oes is ondanks laat reën vroeg in die seisoen.