
Agri SA se filiaal Agri Enterprises en die Motsepe Foundation het op ’n geleentheid in Sandton, Johannesburg, gesê dat R70 miljoen aan twee afsonderlike projekte in Limpopo en Mpumalanga beskikbaar gestel is.
Die twee organisasies het gesê dat toegang tot kapitaal die grootste beperking vir projekte met wesenlike potensiaal is. Gevolglik is ’n vennootskap aangegaan om oplossings te vind en nuwe boere te ondersteun en hul betrokkenheid by die landbou te bevorder.
“Die sukses van hierdie samewerkingsooreenkoms is ’n bewys nie net van die doeltreffendheid van privaatsektor-inisiatiewe nie, maar ook van hoe belangrik ’n holistiese, multilaterale benadering tot inklusiwiteit in die ekonomie is,” het mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, gesê.
Twee projekte, vele moontlikehde
Die eerste van die twee projekte is die gesamentlike ondernemings wat gestig is ná die suksesvolle oordrag van die Groter Tenbosch-grondeis in Mpumalanga. Drie ondernemings is uit die eis gestig om suikerriet te produseer met RCL Foods, wat tans die enkelfinansier van die projek is, as vennoot vir die projek.
Die tweede is Majeje Citrus, in vennootskap met die Majeje- tradisionele owerheid, wat met die ondersteuning van Komati Fruit en Absa gestig is.
Die finansiering van Agri Enterprises en die Motsepe Foundation sal die gemeenskappe in staat stel om die grond te ontwikkel en deel te neem aan die produksie van Suid-Afrika se mees gesogte produkte, sê Agri SA in ’n verklaring.
Die twee projekte sal gesamentlik meer as 1 500 seisoenale en permanente werksgeleenthede skep met ’n impak op sowat 5 700 lewens.