Dit lyk asof die Regering al hoe meer neig om die mynbou te bevorder ten koste van die landbou – wat hy as die grootste waterverbruiker uitsonder.
Uit ’n verslag van die Departement van Waterwese en Omgewingsake wat vir geïntegreerde waterhulpbronbeplanning opgestel is, blyk dit asof die staat landbouwater aan die mynbou wil toewys. Luidens die verslag kan die staat kos vanaf buurlande koop “omdat Suid-Afrika die ekonomiese krag het om baie kos te koop”.
Die verslag noem Suid-Afrika het beperkte landboupotensiaal en dat dit “verstandig” sou wees om eerder ongebruikte water vir huishoudelike gebruik “of ander ekonomiese gebruikerseise, soos dié van nywerhede, die mynbou en bosbou”, beskikbaar te stel.
Volgens Waterwese besproei Suid-Afrika gewasse wat internasionaal beskou word as gewasse wat net met reënwater verbou word. “ ’n Beduidende deel van dié besproeiingsgewasse word uitgevoer.” Die departement meen dit sal voldoende wees as Suid-Afrika in sy behoeftes vir mielies en koring voorsien.
Potensiaal
Die departement het ook ’n verslag laat opstel oor die potensiaal van gewasse wat met reënwater in buurlande (Zimbabwe, Zambië, Malawi en Mosambiek) verbou kan word.
Daar is bevind dat 26,6 miljoen hektaar onontwikkelde landbougrond in dié lande beskikbaar en geskik is vir gewasverbouing met reënwater.
Volgens Waterwese sal kos wat in lidlande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap geproduseer en ingevoer word, “groot volumes water vir alternatiewe gebruik beskikbaar stel sonder om voedselsekerheid in gevaar te stel”.
Dit erken die probleme en beperkinge van só ’n stelsel, maar meen dit is nie onoorkomelik nie.
21 Februarie 2012