
Landbouweekblad se terugkeer na KwaZulu-Natal, na ’n afwesigheid van 30 jaar, is by die onlangse Royal-landbouskou in klip gegraveer. “KZN is ’n belangrike landboustreek in Suid-Afrika met ’n menigte uitstekende boere. Dit is dus vir Landbouweekblad ’n voorkeursaak om hierdie streek so goed moontlik te bedien,” het mnr. Chris Burgess, die hoofredakteur van die tydskrif, by die Royal- galadinee laat hoor.
Landbouweekblad het die beeskarkas-kompetisie by die Royal geborg en mnr. Terry Strachan, die hoofuitvoerende beampte van die Royal-landbougenootskap, het sy hoop vir hierdie verbintenis laat hoor. “As ’n genootskap wat spesifiek die boere van KZN, maar ook die boere van die hele land bedien, is ons baie opgewonde oor die verbintenis tot Landbouweekblad. Ek glo dit is die begin van ’n lang pad saam,” het Terry gesê.
Die karkaskompetisie is volgens Terry een van die mees gesogte kompetisies in sy soort in die land. “Die SA rekord vir beide die skaap- en die beeskarkas is by hierdie kompetisie opgestel en verbeter. Die telers en die kopers van die wenkarkasse by die Royal sien dit as ’n eer en ‘spogreg’ en daarom behaal dit sulke hoë pryse elke jaar.”
Dit is om hierdie rede dat Landbouweekblad juis die karkaskompetisie wou borg. “Dit spreek van die soort uitnemendheid en prestasie waarmee Landbouweekblad graag verbind word word,” verduidelik Chris.
Indien u met Landbouweekblad in KZN wil kontak maak, kontak gerus vir Johan van der Merwe by 082 529 3677 of johan.vandermerwe@landbou.com.
Byskrif: Mnre. Chris Burgess (regs) die hoofredakteur van Landbouweekblad en Antonie Broodryk, een van die tydskrif se bemarkers, by die galadinee van die die Royal-skou. Chris was hier ’n gasspreker en het die gaste bewus gemaak van die hoë agting wat die tydskrif vir KZN-boere het. (Klik net op foto om te vergroot.)